‘n Man van Worcester moes met ‘n skietwond in sy arm sy gewonde kollega, wat ses keer geskiet is, met ‘n bakkie op sy wielvellings tot by die hospitaal jaag om die kollega se lewe te red.
Johan de Kock is in ‘n kritieke toestand in die Tygerberg-hospitaal nadat hy Woensdagoggend skuins voor 11:00 ses keer deur gewapende rowers geskiet is op ‘n diensroete van sy onderneming wat deur Khayelitsha loop.
De Kock, die mede-eienaar van HJ Amusements, en sy kollega, Devon Williams, het in Site-C (Khayelitsha) gery toe ongeveer sewe mans op hulle losgebrand het.
“Ons het met twee bakkies gaan diens doen by ‘n taverne,” vertel Williams, wat in die arm gewond is in die skietery.
“Ek en Johan was in die wit Chevrolet-bakkie en vier ander van ons was in ons ander bakkie. Ons het verby ons kollegas gery en gestop om te kyk of hulle veilig is. Sewe mans het van ons linkerkant af deur die gangetjie uitgekom en op ons begin skiet,” vertel Williams. Williams het die voertuig bestuur.
“Ek het vinnig weggetrek. Ek het gevoel die voorste wiel is pap en gesien ‘n band rol verby my. Ek het op die rims van die bakkie tot by Melomed (hospitaal) in Mitchells Plain gery.”
Volgens Williams het die mans die bakkie se wiele geteiken.
“Hulle het ook gemik om my in die kop te skiet, want hulle het deur die canopy, deur die klein ruitjie geskiet.”
Williams is in die elmboog gewond deur ‘n koeël wat dwarsdeur de Kock se lyf gegaan het.
Hy sê hul ander kollegas kon daarin slaag om na veiligheid te vlug.
Kommentaar van die polisie sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.




