’n Groep kinders van die Roodewal-omgewing was diep geskok toe hulle Dinsdag 9 Augustus op ’n bejaarde man – wat al bykans ’n maand vermis is – se liggaam afgekom het.
Die groep kinders wat omstreeks 14:00 daar gespeel het, het die liggaam tussen die vlei-gebied en die stink water aangetref.
Ryan Psalm, ’n inwoner van Roodewal, was een van die eerste volwassenes op die toneel, nadat ’n groep kinders alarm gemaak het.
“Ek het by die bome hier naby Kleinplasie gesit. Ek het gehoor dat die kinders iets sien en dat hulle vreeslik geskrik het. Ek het gedink hulle sien dalk ’n slang en ek is soontoe om te help. Dit was toe baie erger.”
Psalm verduidelik hy het dadelik die polisie gebel, maar ongelukkig nie dadelik antwoord gekry nie.
“Ek het gesien daar ry toe ’n polisiebakkie op die R62 en is dadelik pad toe om hulle voor te keer en vir hulp te vra. Die seuntjie wat die lyk eerste gesien het, het vreeslik gehuil.”
Hy verduidelik verder die man het “heel onherkenbaar gelyk.”
“ ’n Mens kon nie eens sien hoe hy lyk nie, so vuil was daardie water. Dit is hartseer dat iemand sy laaste tyd op aarde in sulke vuil, stinkende water – tussen gemors – moes deurbring. Ek wens dit niemand toe nie.”
Die Worcester-polisie het die voorval bevestig en volgens die voorlopige forensiese verslag, wat Woensdag 10 Augustus vrygestel is, blyk dit die man het sy nek gebreek. Geen misdaad word in dié stadium vermoed nie.
Dit het ook later bekend geword dat die liggaam wel die vermiste Dennis Maartins van Roodewal is. Maartins se skoondogter, Anthea, soek al die afgelope maand na haar skoonpa.
“Hy het net weggeraak en dit is nie in sy aard om net te verdwyn sonder om ons te verwittig nie. Ons het al ’n advertensie in Standard geplaas en oral na hom gesoek. Toe ons uitvind dat ’n man se liggaam gevind is, het ek dadelik polisiekantoor toe gegaan,” vertel Anthea aan Standard.
Ná haar besoek aan die polisie is sy ingelig dat dit nie haar skoonpa is nie, maar ure later is dit toe inderdaad aan haar bevestig.
“Een van die persone wat saam hom bly kon ’n deel van hom uitken. Dit is so sleg as ’n mens na iemand soek. Dan wens ’n mens eintlik dit is maar hy wat hulle gekry het, en dan het jy antwoorde. Ons is nog geskok en dit is vir ons baie hartseer. Mag hy in vrede rus.”





