’n Man is Dinsdagoggend om 04:25 in ’n woonstel in Roodewal afgemaai.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, is die voorval bendeverwant.

“Die oorledene het by mense gewoon wat in die blokke bly. Volgens een van die ooggetuies het hulle in die woonstel gelê en slaap toe hulle deur ’n skoot wakker gemaak is,” verduidelik Jacobs.

Die oorledene is in sy bors geskiet.

“Hy het toe na die kamer gehardloop en gesê hy is in die bors geskiet, waarna hy op die grond geval en gesterf het.”

’n Ander ooggetuie het glo vir die polisie gesê hy het drie mans van die toneel af sien weghardloop.

“Hy was glo buite om sigarette te gaan kry. Die drie mans het verby hom na die woonstel gestap. Hy het toe gesien hoe een van hulle die noodlottige skoot afvuur.

“Volgens hom het die drie toe van die toneel af weggehardloop.

“Hy meen hulle was lid van ’n plaaslike bende.”

Niemand is nog in verband met hierdie voorval in hegtenis geneem nie.. In ’n afsonderlike voorval is die lyk van ’n 36-jarige man Sondag (5 Mei) in die duikweg in Wilgerstraat, Rouxpark, ontdek.

“Die oorledene, Jeremy van Rooyen, is om 09:30 deur sy vriendin ontdek. Die twee van hulle het saam in die duikweg gewoon.

“Dit blyk die oorledene het ’n massiewe epileptiese aanval gehad, en dit het sy dood veroorsaak.

“Die polisie is tans besig met ’n ondersoek om vas te stel of dit wel dít was of dalk ’n ander natuurlike oorsaak,” het Jacobs verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article