’n Kaapse kobra het omtrent vir opwinding en spanning gesorg toe hy Donderdagoggend (23 Februarie) in Durbanstraat uit ’n kar se enjin geseil het.
Joachim Kuhn, ’n plaaslike inwoner, was dieselfde oggend op ’n plaas in die Nuyvallei toe werkers op die plaas opgemerk het hoe ’n slang by die enjin van Kuhn se Opel Kadett inseil.
Kuhn moes egter dringend in Worcester kom, aangesien sy pa onlangs oorlede is en die familie die laaste begrafnisreëlings moes uitsorteer.
Ná ’n mislukte poging om die slang te verwyder, moes Kuhn noodgedwonge Worcester toe ry om sake af te handel. Hy het Durbanstraat toe gery en toe hy parkeer, gesien die slang wil uit.
Omstanders het omtrent saamgedrom en was nuuskierig oor die situasie wat in die straat afgespeel het.
Die slang het egter besluit om dieper in die enjin te gaan skuil weens die skare mense wat op daardie tydstip saamgedrom het.
’n Plaaslike slangvanger, André du Preez, se dienste is met behulp van polisiebeamptes ingespan om die situasie te beredder.
“Ek is gebel en is dadelik na die toneel toe. Ek moes omtrent my pad deur die massas mense wat daar gestaan het, oopstoot en het toe gesien die slang is diep in die enjin in. Ek het my kennis ingespan en die slang gered.”
Die slang was na bewering “erg ontsteld”.
“Dit is eintlik baie gevaarlik. Kuhn moes eerder nie met die voertuig gery het nie en die slang laat verwyder het. Hy kon ’n ongeluk gemaak het as die slang iewers ingeseil het, of die slang kon ontsnap en ander se lewe in gevaar stel,” sê Du Preez.
Hy verduidelik hy het sedert September verlede jaar al 176 slange in die streek gevang.
“Ek vermoed ons sal so teen die einde van die seisoen in Mei op sowat 250 gevalle staan. Slange gaan veral nou voorberei vir die winter en die veld is droog. Daar is nie kos nie. Mense moet waaksaam wees,”
Hy sê skerpioene is nou meer prominent in die omgewing en mense moet maar versigtig wees en veral tydens beurtkrag en wanneer dit donker is, mooi kyk waar hulle loop en beweeg.
’n Agtienjarige vrou in die Wes-Kaap is onlangs deur ’n slang gepik en is dood.
“ ’n Tekort aan teengif is ’n nasionale probleem, terwyl dit ’n lewe kan red,” sê hy.
“Ek probeer my bes om voorraad op te bou en weet die hospitale doen dit ook. Dit is skaars, maar hier in die dorp is voorraad. Dit is egter baie duur,” sê hy.
Ongelukkig bestaan geen afweermiddel teen slange nie.
“Mense glo allerhande stories en winkels in die dorp verkoop ’n beweerde afweermiddel. Daar bestaan nie so iets nie. Dit werk nie. Al wat werk, is om jou eiendom skoon te hou. Slange gaan agter kos aan. As jy rotte of muise het, dan is jy ’n teiken,” maan du Preez.
. As jy ’n slang vind, kontak Du Preez om hulp by 082 305 9209.


