Die Robertson-streekhof het ’n 33-jarige man van McGregor lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy sy minderjarige stiefdogter oor vyf maande herhaaldelik verkrag en sy gevolglik swanger geraak het.
Die Nasionale Vervolgingsgesag noem nie die beskuldigde nie om die slagoffer en haar kind teen sekondêre viktimisasie te beskerm.
Die staat voer aan die beskuldigde, wat tussen Augustus 2017 en Januarie 2018 ’n saamwoonmaat van die slagoffer se ma in White City, McGregor, was en ook die pa van haar ander drie kinders is, het die slagoffer herhaaldelik verkrag terwyl haar ma by die werk was. Hy was bekend aan die slagoffer aangesien hy by hulle gewoon het sedert die slagoffer vier jaar oud was. Ten tyde van die verkragtings was sy 13 jaar oud, en hy het gedreig om haar en haar ma dood te maak as sy iemand van die verkragtings sou vertel. Sy het swanger geraak en in 2018 die lewe geskenk aan ’n babadogtertjie. DNS-ontleding het bevestig dat hy die kind se pa is.
Die beskuldigde het verskeie kere met die gereg koppe gestamp, insluitend inhegtenisneming vir die besit van dwelms, aanranding en ’n vonnis van drie jaar vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal.
Die staatsaanklaer, Elton Willemse, het die hof gevra om die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf op te lê aangesien die verswarende faktore die versagtende faktore ver oortref. Hy het aangevoer die slagoffer is deel van die kwesbare groep van die samelewing wat beskerming by die howe soek teen oortreders soos die beskuldigde, wat hul fundamentele menseregte vertrap deur slagoffers van geslagsgebaseerde geweld van hul seksuele outonomie en liggaamlike integriteit te ontneem.
Die beskuldigde het oor ’n uitgerekte tydperk baie dade van seksuele penetrasie sonder toestemming met die klaer gepleeg. Hy was in ’n vertrouensposisie om die klaagster lief te hê, te versorg en te beskerm, maar het eerder die vertroue van sy saamwoonmaat en haar dogter geskend. Dit is duidelik dat hy ’n prentjie wil skets van ’n man wat in ’n liefdevolle verhouding was en wat ’n fout gemaak het wat deur sy maat vergewe is. Dit is egter nie waar nie. Hy versuim om verantwoordelikheid vir sy dade te neem en lê die skuld aan die voet van ’n 13-jarige meisie wie se lewe dramaties verander is omdat sy op so ’n teer ouderdom self ma geword het.
Sy het ook tydens die verhoor getuig sy was bang vir die beskuldigde, aangesien hy haar ma gereeld aangerand het. Sy het seergekry en ’n brandende sensasie ervaar ná die seksuele penetrasie.
Dit is duidelik uit die slagoffer-impak-verklaring dat sy nie net die fisieke en sielkundige trauma tydens die tydperk van seksuele misbruik aan die hande van die beskuldigde opgedoen het nie, maar ook sekondêre trauma opgedoen het toe dit van haar versoek is om hof toe te kom en die trauma te herleef – ervarings wat sy moes verduur.
Afskrikking en vergelding is behoorlike doeleindes van vonnisoplegging in hierdie saak, aangesien dit ’n baie ernstige oortreding is. In ag genome die beskuldigde se gebrek aan berou of empatie teenoor die slagoffer, is dit twyfelagtig of hy gerehabiliteer kan word.
Die hof het met die staat se argumente saamgestem en die beskuldigde lewenslange tronkstraf opgelê en gelas dat sy naam in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders en die Nasionale Kinderbeskermingsregister ingeskryf word. Die hof het ook die aanklaer beveel om die slagoffer en haar ma in kennis te stel van hul regte om vertoë aan die kommissaris van Korrektiewe Dienste te rig wanneer plasing van die beskuldigde op korrektiewe toesig of parool oorweeg word en die appèlregte aan hulle te laat verduidelik.
Die hof het die beskuldigde ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en beveel dat ’n onmiddellike deursoeking en beslaglegging van alle bevoegdheidsertifikate, lisensies, permitte en magtigings wat aan die beskuldigde uitgereik is en alle vuurwapens en ammunisie in sy besit afgeneem word.


