‘n Veroordeelde kinderverkragter van Robertson gaan 25 jaar agter tralies deurbring nadat hy twee minderjarige seuns in 2019 verkrag het.
Mervin Strydom (46) het skuld op die twee aanklagte van verkragting beken en ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Strydom se naam is ook in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem.
Wat die eerste voorval betref, het Strydom in sy pleitooreenkoms gesê hy het die seun, wat ten tyde van die voorval 14 jaar oud en aan hom bekend was, in 2019 in Hospitaallaan, Robertson, raakgeloop.
Volgens hom het hy en die seun al voorheen saam gekuier.
Hy sê hy het die seun al toegelaat om sigarette saam met hom te rook en om van tyd tot tyd by hom oor te slaap.
Strydom erken hy en die seun het op die dag van die voorval weer saamgekuier.
Volgens hom het hy die seun, wat in daardie stadium langs hom gesit het, gevra om langs hom te kom lê.
Hy erken hy het sy en die seun se klere uitgetrek, waarna hy die kind verkrag het. Volgens Strydom het die seun geskok gereageer en van hom probeer wegkom.
Hy sê hy het die seun verseker om nie bekommerd te wees nie en met die daad voortgegaan. Volgens Strydom het hy die seun na afloop van die daad gesê om niemand te vertel van wat gebeur het nie.
Hy sê die misdaad het op die lappe gekom toe die seun sy ma van die voorval vertel het. Sy het die voorval op haar beurt by die polisie aangemeld. ‘n Strafregtelike ondersoek teen Strydom het gevolg.
Met betrekking tot die tweede voorval het Strydom erken dat hy op ‘n dag in 2019 die tweede klaer – wat toe ook 14 jaar oud was – in Hospitaallaan, Robertson, raakgeloop het. Soos in die geval van die eerste klaer, het Strydom erken dat hy ook vroeër saam met die betrokke klaer gekuier en dat hulle saam sigarette gerook het.
Volgens hom het hy en die tweede klaer op die dag van die voorval ook saam gekuier. Hy sê hy het die seun vertel van wat vroeër tussen hom en die vorige klaer gebeur het.
Volgens Strydom het hy die seun gevra of hy ook die daad met hom kan pleeg. Hy erken die kind het geweier, maar dat hy hom later oortuig het.
Volgens Strydom het hy aan die seun gesê dit is hul geheim en dat hy hom leed sal aandoen indien hy nie sou instem nie.
Hy erken die seun het uit vrees weens sy dreigement teen sy sin langs hom kom lê. Volgens hom het hy die seun en homself ontklee, waarna hy die kind verkrag het.
Hy erken hy het die seun na afloop van die daad beveel om niemand van die voorval te vertel nie.
Volgens Strydom het die verkragting op die lappe gekom toe die kind op pad skool toe in sy geselskap gesien is en gerook het.
Hy erken die seun het sy ouers van die verkragting vertel toe hulle hom uitgevra het oor sy verbintenis met hom.
Elton Willemse het aangekla.


