’n 31-jarige man van De Doorns is skuldig bevind aan die verkragting van ’n niggie van hom en is gevolglik 25 jaar gevangenisstraf opgelê.
Die voorval was op 30 April 2019. Elton Mohalie het sy destyds 11-jarige verstandelik gestremde niggie uit die bed waarin sy geslaap het, gehaal en haar verkrag. Sy was ten tyde van die voorval in Mohalie se familie se sorg.
“Die slagoffer het geslaap. Die beskuldigde, haar pleegbroer en neef, het in die kamer ingekom en haar van een bed na ’n ander verskuif.
“Die klaagster het wakker geword.
“Die beskuldigde het haar klere uitgetrek en haar verkrag.
“Haar ma het in die nag wakker geword en gesien hoe die beskuldigde uit die bed waar die meisie was, opstaan.
“Die beskuldigde is met DNS-bewyse verbind,” word in die hofdokumente verduidelik.
Die saak is die volgende dag by die polisie aangemeld en Mohalie is dieselfde dag in hegtenis geneem. Hy was sedertdien in aanhouding terwyl hy verhoorafwagtend was. Hy het in sy verhoor skuld beken.
Hy is op 30 Julie 25 jaar tronkstraf opgelê, waarvan vyf jaar vir vyf jaar opgeskort word op voorwaarde dat hy nie in daardie vyf jaar weer skuldig bevind word aan dieselfde of soortgelyke oortredings nie.
Hierdie besluit is deur landdros Abigail Juries geneem omdat hy reeds vyf jaar in aanhouding was en dit sy eerste oortreding was.
“Die beskuldigde word onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en om met kinders te werk. Sy naam sal ook in die register vir seksoortreders aangeteken word.
“Die beskuldigde moet ook lewensvaardigheidsopleiding ondergaan.”
Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, advokaat Nicolette Bell, het die vonnis verwelkom.
“Elkeen van hierdie suksesvolle vervolgings is die hoogtepunt van maande, en dikwels jare, se moeisame ondersoek- en vervolgingswerk. Hierdie sake verskaf geregtigheid en afsluiting aan die slagoffers en hul gesinne terwyl gewelddadige misdadigers uit ons huise en strate verwyder word,” het Bell gesê.



