Dit was hoe die skade kort ná die mislukte kaping gelyk het.

Credit: SYSTEM

’n 20-jarige Worcesteriet moes behoorlik kophou toe vier mans hom in Zwelethemba probeer oorrompel het en sy werksbakkie wou afvat.

Naudé Kloppers, ’n junior toesighouer by Afrimat, het op Dinsdag 17 Januarie omstreeks 04:50 sy kollegas in Zwelethemba gaan oplaai toe vier onbekendes hom aangeval het.

“Vir die afgelope sewe jaar wag ons op dieselfde plek vir ons werkers. As ons iewers gaan werk, moet ons al 07:00 daar wees en was Dinsdag op pad Vredenburg toe. Ek het Zwelethemba ingery en vir die manne laat weet ek is amper daar. Ek het stilgehou en die bakkie was darem nog gesluit gewees toe die chaos uitbreek,” vertel hy aan Standard.

Kloppers het skaars twee minute in die bakkie gesit en wag toe ’n man aan sy bakkie se deur begin ruk het.

“Ek het gedink dit is dalk een van die manne in my span, maar toe ek my kop draai, het die venster gebars. Daar was twee mans, een met klippe en een wat my toe begin slaan. Ek het na die passasierskant probeer beweeg en toe is daar ook ’n man wat daardie venster breek. Ek was omsingel.”

Kloppers het sy instink gevolg en so gou as moontlik die bakkie in eerste rat oorgesit en weggejaag. Hy kon sien daar was altesaam vier mense.

“Al wat deur my kop gegaan het, is dat ek moet wegkom voor ek seerkry of voor hulle die bakkie se deur kan oopmaak. Ek het die manne gebel en gesê bly weg van daardie optelpunt. Ek het daarna direk werk toe gery.”

Hy het gevoel en gesien dat sy hande vol bloed is.

Sy skouer en sleutelbeen was ook seer nadat hy deur een van die mans geslaan is.

“Ek het gaan stilhou en die skok was baie erg vir my. My maag het gedraai en ek het opgegooi,” vertel hy verder.

Kloppers se baas was in daardie stadium ook op pad Vredenburg toe, maar het dadelik omgedraai om hom by te staan.

Hulle het ’n saak by die polisie aanhangig gemaak.

“Ek het geen gesigte gesien nie. Dit was vroeg en pikdonker – daar was ook nog beurtkrag in daardie stadium.”

Kloppers maan inwoners om versigtig te wees.

“My raad is dat mense versigtig moet wees, hul deure gesluit moet hou en nooit die voertuig afskakel as hulle iewers staan en wag nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article