Marshall Fransman die oggend voor sy 21ste Comrades Foto:


Marshall Fransman (57) het vanjaar sy 21ste Comrades-marathon voltooi.

“Hierdie was vir my ’n besonderse maraton. Ek was vol emosies voordat die wedloop begin het. Die trane het net gerol sonder keer. Ek was emosioneel oor die familie wat ek oor die jare heen verloor het en my altyd in my Comrades-reis ondersteun het,” vertel hy.

Fransman het in 2000 begin hardloop en in 2001 aan sy eerste Comrades deelgeneem.

“Daai tyd toe hardloop ek saam met ander gesoute manne. Ek het toe die Comrades op TV gekyk en daai jaar het die eerste Suid-Afrikaner gewen. Van daar af was dit my droom om ook deel te neem. In 2001 het ek die marathon in 8:48 voltooi. Hierdie jaar het ek dit in 9:47 gedoen.”

Hy meen dis harde werk om vir die Comrades voor te berei.

“Soggens moet jy 03:00 of 04:00 opstaan en gaan oefen. Daar is ook baie kostes aan verbonde, spesifiek vir jou vervoer soontoe en terug, asook jou verblyf daai kant. Maar terselfdertyd is dit ook lekker want jy sien dan ou vriende wat jy oor die jare daar ontmoet het. En my motivering tydens die padwedloop was al die mense wat ouer as ek is wat deelgeneem het. Hulle het my aan die gang gehou.”

Fransman maak al weer gereed om in Augustus aan die PPC en ’n ander paar wedlope deel te neem.

“My liggaam het vinnig herstel, dus is ek gereed. Terwyl ek die Comrades gehardloop het, het ek vir myself gesê ek gaan dit nie weer doen nie, maar ek sal so tussen die ander wedlope deur vir volgende jaar se Comrades begin voorberei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article