’n Man is dood nadat sy aanvaller hom tydens ’n bakleiery op ’n plaas buite Worcester herhaaldelik met ’n mes gesteek het.

Trust Tora (41) het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Volgens AO Vatishwa Jacobs van die Worcester-polisie het die beampte wat op Saterdagaand 8 Februarie ontbied is, op Tora se lyk afgekom. Sy aanvaller, ’n 27-jarige man, was self ook ernstig beseer met veelvuldige meswonde aan sy borskas en rug.

Weens sy beserings kon hy nie in hegtenis geneem word nie en hy is na die Worcester-hospitaal geneem.

Teen Dinsdagoggend was die man steeds in die hoësorg-eenheid met ’n polisiebeampte wat by hom waak.

Volgens die polisie het albei mans op die plaas Lulu gewoon.

Die aanvaller het Tora glo by ’n drinkplek opgesoek – oor “onafgehandelde sake”.

Tora het blykbaar weggehardloop, maar sy aanvaller het hom ingehaal en met ’n mes gesteek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article