’n Man van 32 is vermoor nadat iemand hom van huisbraak beskuldig het.
Dié voorval het Sondag 19 Junie om 11:48 in Deborahstraat, Wolseley, plaasgevind.
“Volgens ooggetuies het die oorledene en die verdagte gestry. Die verdagte het glo die oorledene daarvan beskuldig dat hy vroeër die week by sy huis ingebreek het,” verduidelik ’n woordvoerder van die Wolseley-polisie.
Die ooggetuie het verder aan die polisie verduidelik dat die oorledene eerste na die verdagte gesteek het.
“Die ooggetuie het egter geen wonde aan die verdagte opgemerk nie. Die verdagte het volgens die getuie toe die mes gegryp en die oorledene noodlottig gesteek.”
Die oorledene, Elrico Fredericks, is net een keer raakgesteek.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het Fredericks regop in die huis se voorkamer gesit. Bloed het by sy mond uitgestroom en sy hande en die linkerkant van sy liggaam was ook vol bloed. Hy het ’n steekwond aan die linkerkant van sy nek gehad. Met die ambulans se aankoms op die toneel het die paramedici Fredericks op die toneel dood verklaar,” het die woordvoerder verduidelik.
’n Tweede ooggetuie het ook aan die polisie van ’n steekvoorval tussen die twee mans glo vroeër op dieselfde dag vertel.
“Die ander ooggetuie het ook verduidelik dat daar vroeër ’n voorval tussen die mans was, waartydens die ooggetuie ook aangerand is. Die ooggetuie en die verdagte het glo later die oorledene gaan aanspreek toe die noodlottige stryery tussen die twee uitgebreek het,” het die woordvoerder verduidelik.
Die 32-jarige verdagte is op dieselfde dag as die voorval in hegtenis geneem en sal eersdaags op aanklag van moord in die hof verskyn.


