Emanuel du Plessis is Saterdag noodlottig gesteek.

Credit: SYSTEM

Die moord op ’n 25-jarige man het sy familie in rou gedompel nadat Emanuel (Manny) du Plessis Saterdagaand in Montagu dood is.

Du Plessis is om 19:55 in Willem Thysstraat twee keer met ’n mes gesteek.

“Hy was ’n oulike seun. Hy was glad nie moeilik of bakleierig nie,” vertel sy pa, Samuel du Plessis.

Du Plessis, wat by sy vriendin gewoon het, het volgens sy pa Saterdag in ’n woordewisseling met sy vriendin betrokke geraak.

“Hulle het glo gestry, toe raak haar broer by die bakleiery betrokke. Nog ’n man het by die struweling betrokke geraak. Dit is toe dat Manny met ’n mes gesteek is.”

Samuel was Saterdagaand by die huis toe iemand hom kom vertel van die bakleiery wat aan die gang is.

“Hy het nie baie ver van ons af gewoon nie. Iemand het kom klop en gesê iemand is besig om Manny aan te rand en teen die informele struktuur waar hy gewoon het, te gooi. Ek het toe dadelik in my motor geklim en daarheen gery.”

Hy was ongelukkig te laat. “Toe ek en my swaer daar aankom, het ons Manny in ’n plas bloed gekry lê. Ek het sommer onmiddellik geweet hy is reeds dood. Sy oë was omgedop en hy het nie asemgehaal nie. Hy het een steekwond in die kop gehad en een in die nek gehad,” het Samuel verduidelik.

Hy sê ook dit is ’n baie moeilike tyd vir die familie. “Dit gaan nie so goed met ons nie. Die verdagte se eerste hofverskyning was ook nog vandag (Dinsdag). Ek verneem borgtog is teengestaan. Ek is nie seker wanneer hy nou weer in die hof gaan verskyn nie. Die polisie het my ook vroeër laat weet die outjie wil my graag sien. Daarvoor het ek nee gesê. Wat gaan hy vir my sê?”

Hy vertel ook sy seun was ’n mense-mens. “Hy het baie vriende gehad. Hy het wel nie baie gepraat nie, maar was ’n vriendelike, mense-mens. Hy het altyd geglimlag.”

Hy laat ook ’n 15 maande oue seuntjie agter.

’n Begrafnisdiens word Sondag 17 Desember gehou.

Die diens by die huis is om 10:00 by Africastraat 14, Montagu, en die kerkdiens sal om 12:00 by die Burgersentrum in Montagu plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article