’n 28-jarige man van De Doorns is verlede Dinsdag 10 Mei doodgesteek nadat ’n man hom van geld wou beroof.
Gerugte doen die ronde dat die oorledene glo biere verkoop het wat vroeër van ’n vragmotor op die N1 by De Doorns af gesteel is nadat dit aan die brand geslaan het. Die verdagte wou hom glo van die geld, wat hy glo daaruit gemaak het, beroof. Maar volgens ’n De Doorns-polisiewoordvoerder is hierdie gerugte onwaar.
“Die man het in 4de Laan in Stofland geloop toe hy deur die verdagte genader is. Hy het in die oorledene se sakke begin krap, maar die oorledene het hom probeer keer,” verduidelik die woordvoerder.
Die 28-jarige man het toe omstanders geroep om hom te kom help.
“Die oorledene het tydens die voorval gesien hoe mense toekyk en het om hulp geskree. Toe die verdagte sien daar is mense op pad, het hy ’n mes uitgeruk en die slagoffer een keer in die bors gesteek. In hierdie stadium kan daar nie bevestig word of die oorledene wel van die gesteelde biere verkoop het nie. Die ooggetuies wat hom te hulp gesnel het, het hom ook nie in die besit van biere gesien nie.”
Die slagoffer het neergesak en het op die toneel aan sy enkele steekwond beswyk. “Nadat die verdagte die man gesteek het, het hy van die toneel gevlug. Hy is later dieselfde dag by sy huis in hegtenis geneem,” het die woordvoerder verduidelik.
Die verdagte is van moord aangekla en het verlede Woensdag 11 Mei sy eerste hofverskyning gemaak. Hy het weer gister vir ’n borgtogaansoek voorgekom.


