Worcester-middedorp was kort ná Kersfees weer byna ’n spookdorp ná nog ’n bomdreigement.Foto: Luciano du Toit


Vir die tweede keer in minder as ’n maand was Worcester-middedorp in rep en roer weens bomdreigemente.

Maar ná die jongste geval kort ná Kersfees is ’n 53-jarige werklose man van Rawsonville in verband hiermee vasgetrek.

Die drama het op Saterdag 25 November begin toe die eerste bomdreigement by ’n bank plaasgevind het.

Standard & Gazette het kort hierna berig dat die voorval omstreeks 11:00 in FNB plaasgevind het.

Een van die bank se personeellede het iemand na vore geroep wat in die ry gestaan het.

Dié man het ’n koelsak aan haar oorhandig en toe sy binne-in die sak kyk, was daar ’n nota geplak asook ’n vreemde apparaat.

Op die nota is geskryf daar is ’n pypbom in die sak. Die nota het ook die teller gewaarsku om nie die noodknoppie te druk en ook nie die polisie te verwittig nie.

Die man wat die sak aan haar oorhandig het, het toe vir haar gesê “ek kyk of julle fo**ers wakker is, ek is van die polisie”.

Hierna het die man die sak daar gelos, omgedraai en doodluiters uit die bank gestap.

Hierna is die bankbestuurder in kennis gestel en die polisie is onmiddellik gekontak.

Die polisie het summier die bom- eenheid na die toneel laat kom en hulle het bevestig dis inderdaad ’n regte bom wat in die swart sakkie was.

En op 27 Desember het byna dieselfde toneel weer by FNB in Hoogstraat afgespeel toe dieselfde verdagte weer terug was by dieselfde kassier, geklee in ’n swart sjef-voorskoot, swart bofbalpet, swart hemp, swart pruik en ’n swart sonbril .

Benewens nog ’n bomdreigement, het die man ook geld geëis.

Die kassier het wel ’n paar duisend rand aan die man oorhandig voor die man uit die bank gestap het.

AO Vathiswa Jacobs, Worcester-polisie se woordvoerder, het bevestig die polisie het beeldmateriaal ontleed en só die 53-jarige verdagte opgespoor en Donderdag 28 Desember in hegtenis geneem.

Die verdagte, Wiehan Mostert (53), is in hegtenis geneem en twee klagte is teen hom aanhangig gemaak, naamlik dat hy bomdreigemente gemaak het en ’n klag van sakeroof.

Die Sondagkoerant Rapport het die naweek berig kennisse van Mostert vertel hy doen hom graag voor as ’n “hoogs opgeleide soldaat” wat in verskeie Midde-Oosterse lande militêre diens gedoen het.

In skermgrepe van plasings wat Mostert op ’n geslote groep vir veiligheidsdienste geplaas het, daag hy lede op die groep uit tot vuisgevegte met hom. Hy sê onder meer dié “ou wit man” sal enigeen met vier makkers en al aandurf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article