’n 37-Jarige man van Roodewal is Woensdagaand (7 Desember) dood nadat hy na bewering deur ’n groep kinders gejaag, uitgejou en toe met klippe bestook is.
Frederico Williams het skuins voor 20:00 Woensdagaand in Riverview gestap toe ’n groep kinders hom vermoedelik begin agterna sit en hom met klippe teen die rug, boud en bene gegooi het.
Sy broer, Wayne, wat later in Le Sueurstraat sy broer se lewelose liggaam moes aanskou, vertel aan Standard dat dit beslis bygedra het tot sy dood.
Die polisie sê egter Williams het weens natuurlike oorsake gesterf.
Volgens AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie is dit waar dat ’n groep minderjarige kinders vir Williams agterna gesit en met klippe gegooi het, maar is hy nie weens hierdie voorval dood nie.
“Polisiebeamptes is in kennis gestel van die voorval en het hulle dadelik na die toneel gehaas.
“Ambulanspersoneel het vir Williams op die toneel dood verklaar en daar is bevind dat hy weens natuurlike oorsake oorlede is.
“Hy is met klippe gegooi, maar hy het later gaan sit, weer opgestaan en verder geloop en ’n entjie verder inmekaargesak.”
Sy broer verskil egter van hierdie bevinding.
“Die merke op sy lyf was duidelik sigbaar. Dit was potblou gekneus. Die polisie moet al weet wie die kinders is in Riverview wat dit gedoen het. Dit is vir ons baie hartseer en so onnodig,” het Williams se broer aan Standard gesê.
’n Ooggetuie wat in die straat was ten tyde van die voorval verduidelik dat hulle net ’n geraas in die straat gehoor het en dat hulle gesien het hoe ’n man homself verdedig teen ’n groep kinders.
“Ek het van ver af gesien dat daar ’n situasie ontstaan het en wou die man gaan help. Toe ek daar kom was die groepie wat by hom was (die kinders) reeds weg.
“Hy het verder geloop en dit was die laaste wat ek van hom gesien het. Ek was geskok toe ek uitvind die man is net daarna oorlede.”
Die oorledene se broer vertel dat hulle nog sukkel om die nuus te verwerk en dat hy sy broer sal onthou as iemand wat stil en op sy plek was, veral die laaste paar jaar.
“My broer was jare gelede betrokke by die verkeerde dinge, maar hy het hom reggeruk en was op sy plek.
“Hy was maar altyd in die straat en het op en af geskarrel, maar hy was die afgelope tyd op ’n goeie plek.
“Hy het ook ’n dogtertjie wat hy agterlaat, maar was nooit getroud nie. Ons gaan hom mis,” vertel hy aan Standard. Williams sal Saterdag (17 Desember) begrawe word.





