Brendon Bosman is meld10 November vermis. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Ma van Rawsonville is rasend van bekommernis oor haar seun wat sedert Vrydag 10 November vermis is.

Volgens Maggie Burger het sy haar seun Brendon Bosman (30) laas om 09:00 die betrokke oggend gesien.

“Hy het nog vir my gesê ‘Mamma se foon se battery is pap’, toe is hy daar uit by die deur om ’n charger te gaan soek. Hy is nou nog weg,” verduidelik Burger.

Sy noem ook dat haar swaer hom glo dieselfde dag naby die weegbrug gesien het.

“Hy het gestop om hom ’n geleentheid aan te bied, maar hy wou nie inklim nie. Ons weet nie watter kant toe hy geloop het nie, en of hy dalk weer terug dorp se kant toe gedraai het nie.”

Die familie het die Saterdag (11 November) na die plaaslike polisiekantoor gegaan en hom amptelik as vermis aangemeld.

“Ons het by die polisiekantoor gaan vra of hy dalk daar in die selle is, maar hy was nie daar nie. Hulle het wel gesê iemand het hom daar verby sien loop. Ons het die dorp gefynkam, maar het hom nêrens opgespoor nie. Die Sondag het iemand ook gesê hulle het hom op die brug gesien loop en hy het glo ’n hou aan sy gesig gehad. Ons weet nie of hy dalk Worcester se kant of Paarl toe gestap het nie.”

Sy verduidelik voorts dit is nie die eerste keer dat hy weggeraak het nie.

“ ’n Hele ruk gelede was hy vir ’n maand weg. Hy het vir ons gesê hy was in die Kaap. Hy was vol luise toe die polisie hom huis toe gebring het. Iemand daar het toe uitgevind hy is van hier en het hom op die trein na Worcester gesit en die polisie daar het hom huis toe gebring.

“Hy het ’n geestestoestand. Ek is rasend van bekommernis. Ek bid en hoop hy lewe nog. Ek het al soveel slapelose nagte gehad. Ek is moedeloos; ek weet nie meer watter kant toe nie.” . Enigeen met inligting oor waar Brendon Bosman dalk kan wees, kan die ondersoekbeampte by die Rawsonville-polisie, AO BC Prince by 023 349 8300 of 023 3498329 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article