Mahindra het die splinternuwe XUV 3XO in Suid-Afrika bekendgestel, wat die eerste bekendstelling buite Indië is. Hierdie kompakte nutsmotor (C-SUV) bied ’n kombinasie moderne ontwerp, gevorderde tegnologie, uitmuntende gerief en veiligheidskenmerke aan die plaaslike mark.
Die XUV 3XO stel ’n nuwe maatstaf in nutsmotors, wat al die ander in die skadu stel. Van ontwerp tot tegnologie, is die XUV 3XO ’n pakket wat aangepas is vir jou moderne leefstyl.
Ontwerp en Binne-afwerking
Die XUV 3XO staan uit met sy vet, atletiese buitekant, wat ’n kenmerkende sierrooster met ’n klavierswart afwerking, ligdiode-kopligte en slanke 17”- diamantgesnyde allooiwiele op luukse modelle insluit. Die agterkant word verbeter deur ’n eindelose ligdiode-agterlig wat oor die voertuig strek en sy breë houding beklemtoon.
Binne bied die XUV 3XO weelderige afwerking soos leerbekleedsel, ’n sagter aanraakpaneelbord en hoogtepunte op die stuurwiel en ratknop. Dit spog ook met gevorderde tegnologie, soos twee 10,25”-HD-skerms vir die vermaakstelsel en digitale paneelbord, wat ’n eersteklas, tegnologies gedrewe ry-ervaring bied. Funksies soos kabellose Android Auto en Apple CarPlay, saam met ’n 65W-USB-C-laaipunt, is op tegnologie-georiënteerde bestuurders gerig.
verrigting en Tegnologie
Die XUV 3XO word aangedryf deur Mahindra se turbo-petrol mStallion-enjin, wat 82 kW en 200 Nm wringkrag lewer. Met sy intelligente turbo-aanjaer kan die enjin binne net 4,6 sekondes van 0 tot 60 km/h versnel, terwyl dit indrukwekkende brandstofdoeltreffendheid handhaaf. Kopers kan kies tussen ’n sesgang-handratkas of ’n outomatiese AISIN-sesgang- ratkas vir gladde en betroubare verrigting.
Bestuurders kan hul ervaring verder aanpas met drie slim stuurmodusse – Comfort, Normal en Sport – wat vir alle dryfstelsels beskikbaar is. Die XUV 3XO bied ook drie ry-modusse (Zip, Zap en Zoom) in die petrolaangedrewe outomatiese weergawes, wat sy dinamika vir verskillende terreine vervolmaak.
Veiligheidskenmerke
Mahindra het veiligheid in die XUV 3XO boaan die lys geplaas, danksy gevorderde bestuurderbystandstelsels, insluitend outomatiese noodremwerk en radartegnologie vir botswaarskuwings. Die voertuig het ses lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer, opdraande-en afdraande-beheer en ’n 360° kamerastelsel.
Die robuuste struktuur, wat uit 45% ultra-hoë-sterkte staal bestaan, verseker maksimum beskerming in die geval van ’n botsing.
Gerief en Ruimte
Die XUV 3XO, wat vir ruimheid ontwerp is, bied die beste beenruimte en bagasieruimte, met ’n vermoë van tot 364 liter – alles in sy klas. Dit bevat ook nuttige kenmerke soos ’n verkoelde paneelkissie en ’n 60:40- verdeelbare agtersitplek vir ekstra gerief.
Pryse en Beskikbaarheid
Suid-Afrikaanse klante kon die XUV 3XO van 20 September af toetsbestuur en bestel het, met aflewerings wat op 3 Oktober begin het. Pryse begin by R254 999 vir die handrat-model en R274 999 vir die outomatiese model. Die XUV 3XO kom met ’n 5-jaar/150 000 km- meganiese waarborg en diensplanne verskil per model.
Hierdie nuwe bekendstelling bevestig Mahindra se toewyding om vernuwende, hoë-waarde-nutsmotors na Suid-Afrika te bring, wat verseker dat klante topverrigting, -veiligheid en -tegnologie in ’n stylvolle pakket geniet.




