Jy hoef nie ver te soek om ’n verskil te maak nie – vra maar die personeel van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand by Worcester Hospitaal.
Hulle het as deel van Mandelamaand-aktiwiteite op die Thuthuzela-sorgsentrum wat in die hospitaal geleë is, en op pasiënte wat weens nood of ’n afspraak by die hospitaal was, gefokus.
Die vrygewigheid van personeel was duidelik te sien in die groot hoeveelheid goedere wat op Mandeladag aan die Thuthuzela-sorgsentrum oorhandig kon word.
Die skenking het klere, tandeborsels en tandepaste, waslappe en sjampoe ingesluit en vergemaklik die taak van personeel by dié sorgsentrum (onder leiding van die nasionale vervolgingsgesag) se bystand aan mense wat deur seks-misdade geraak is.
“Die Thuthuzela-span doen wonderlike werk om ondersteuning te gee en na van die kwesbaarste mense in die gemeenskap om te sien,” sê suster Sanel Vlok, een van die personeellede wat die inisiatief gedryf het.
“Ons wou hulle graag help om te doen wat hulle so uitstekend doen – om te sorg.”
Die personeel se bydraes het dit ook moontlik gemaak om pasiënte wat op 19 Julie by die ongevalle-afdeling was en ander wat vir afsprake by die buite-pasiënt-afdeling gekom het, met warm sop te verwelkom.
Me. Roshen Ahmed-Meyson van die hospitaal se menslike-hulpbronne-afdeling was deel van die span wat personeel aangemoedig het om bydraes te gee sodat bestanddele vir sop gekoop kon word. Die personeel het potte sop gekook en kon toe dié lafenis op wat juis ’n koue dag was, verskaf.





