Nasionale Testamenteweek word vanjaar van 16 tot 20 September gehou. Jy kan hierdie week gebruik om jou testament gratis te laat opstel.
Volgens statistieke sterf meer as 75% van Suid-Afrikaners sonder ’n geldige testament, wat nadelige gevolge vir hul gesinne en afhanklikes veroorsaak.
Waarom is dit belangrik om ’n testament te hê?
Dit is van kardinale belang om ’n testament te hê. As jy nie een het nie en jy sterf, sal alles aan die staat behoort en is dit sy plig om dit tussen jou erfgename of jou ouers te versprei.
Volgens prokureurs word hulle daagliks oorval met navrae van familielede van iemand wat sonder ’n testament gesterf het. Hulle wil dan weet wat van die oorledene se bates word. Dit lei ook tot reuse-geskille.
Kan ’n testament sonder ’n prokureur opgestel word?
’n Eenvoudige testament, byvoorbeeld waar daar nie ’n groot hoeveelheid bates is nie, kan sonder die hulp van ’n regsgeleerde opgestel word.
Maar die probleme ontstaan egter waar mense ’n testament opstel sonder regsadvies en die testament dan nie aan die vereistes van die wet voldoen nie. In sulke gevalle sal die meester van die hooggeregshof die testament verwerp, ongeldig verklaar en die oorledene se boedel word dan ingevolge die Wet op Intestate Erfreg afgehandel.
In gevalle waar daar ’n groot boedel is (met ander woorde waar daar baie bates en minderjarige kinders is), is dit raadsaam dat die kennis en hulp van ’n prokureur bekom word om bystand te bied met die bewoording en tegniese aspekte.
Kan ’n testament verval?
’n Testament is geldig solank die testateur dit uit vrye keuse en met twee getuies onderteken het.
Die top-5 gevolge van afsterwe sonder ’n testament:
1. Jy verbeur die geleentheid om te besluit wie wat erf en jou boedel word verdeel soos wat deur Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal word. Dit beteken mense wat jy miskien nie wou hê moet voordeel trek uit jou boedel nie, mag dalk jou bates en erfstukke bekom.
2. Jou lewensmaat mag dalk met leë hande agtergelaat word as julle nie getroud was nie, of as jou testament nie hersien is sedert ’n vorige huwelik nie.
3. Jou kinders se erfporsie mag aan die staat se Voogdyfonds oorbetaal word of aan die aangewese voog eerder as aan ’n trust wat sal verseker dat jou wense vir hulle uitgevoer word.
4. Familietwis vind dikwels plaas wanneer gesinslede stry oor die verdeling van jou boedel indien jou finale wense nie duidelik uiteengesit word in ’n testament nie.
5. Die bereddering van jou boedel kan jare neem – sonder ’n testament wat ’n professionele eksekuteur aanwys, is die staat so te sê in beheer van die proses.
Jou kinders se erfporsie mag aan die staat se Voogdyfonds oorbetaal word of aan die aangewese voog eerder as aan ’n trust wat sal verseker dat jou wense vir hulle uitgevoer word.



