Kersfees is om die draai! ’n Feestelike opgewondenheid hang in die lug namate Kersversierings oral hul verskyning maak. Die winkelsentrums pronk met allerlei Kersgeskenke en promosies terwyl Kersdeuntjies die gange vul. Die meeste van ons sien uit na ’n Kersdag saam met geliefdes en die samekoms om ’n Kerstafel wat kreun onder ’n heerlike feesmaaltyd.

Ons is só bevoorreg.

Maar is ons só dankbaar?

Nie almal se Kersfees is feesviering en familietyd nie.

Vir sommige meervoudig gestremde en bejaarde Dowes is NID hierdie Kersfees hul enigste tuiste en familie. Hierdie inwoners het geen familie nie, of in sekere gevalle familie wat nie bereid is om hulle vir die Kersseisoen te huisves nie. Vir ander wat wel so gelukkig is om huis toe te gaan, kan dit egter ook soms ’n tyd van erge eensaamheid wees weens die uitdaging van kommunikasie tussen die Dowe en sy of haar horende familielede. Ons Dowe inwoners se Kersfees lyk dus effens anders as die een wat ons so maklik vanselfsprekend aanvaar. By NID Sorg poog ons egter om steeds ’n feestelike atmosfeer met spesiale aktiwiteite en bederf te skep.

Sommige inwoners verkies selfs om hier te bly, want hier voel hulle welkom, veilig en deel.

Namens hierdie inwoners vra ons mense om ons asseblief te help met ’n spesiale Kersbydrae ten bate van die versorging van ’n bejaarde of meervoudig-gestremde Dowe inwoner by die NID. U omgee en liefde kan hierdie Kersfees ’n verskil in die lewe van ons Dowes en mense met gehoorverlies maak. Help ons asseblief om vir hulle ’n alleen-Kersfees een te maak van vreugde, vrede en feesviering.

Ons wens u ’n Geseënde Christusfees en ’n voorspoedige 2023 toe!

Bankbesonderhede: Absa WorcesterTaknommer: 503 107Rekening: NID Ontwikkeling Soort rekening: Tjek Rekeningnommer: 911 845 2209 Verwysing: KVB (en u naam en van).

Stuur asseblief bewys van betaling na fr.nid@nid.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article