Vallei Organies en Moov het onlangs ’n baie suksesvolle gholfdag gehou, genaamd die Neethling Charity Cup, wat nou ’n jaarlikse instelling sal wees.
Die gholfdag, ten bate van Tuindorp, is genoem na die geliefde Siebert Neethling, wat in 1992 die stigterslid van Wynland Organiese Kragbemesting in Wellington was, wat gelei het tot die geboorte van Vallei Organies, toe sy seun Gerhardus die onderneming in 2006 in Worcester gestig het.
Neethling is in Februarie vanjaar oorlede.
Siebert was ’n ware omgeemens wat met verskeie projekte na die gemeenskap uitgereik het.
Die Van Riebeeck- Tuindorp Behuisings- maatskappy is ’n nie-winsgewende-organisasie wat reeds in November 1953 gestig is.
Tuindorp is ’n kompleks met 39 huise daarin, wat behuising voorsien aan 45 behoeftige inwoners oor die ouderdom van 65. Hierdie bejaardes is afhanklik van die behuising, sekuriteit en ondersteuning wat Tuindorp hulle bied.
Tuindorp verskaf dus gemoedsrus vir lae-inkomste-bejaardes ná aftrede.
Oor die jare is die kompleks slegs gefinansier met openbare geld uit verskillende bronne om alles vlot te laat verloop.
Die enigste inkomste wat hierdie bejaardes het, is hul Sassa-toelae.
Die residensiële kompleks het oor die jare gegroei en dus word sy onkostes al hoe meer, asook weens sekuriteit, beurtkrag en al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan, wat dit vir bejaardes moeilik maak.
Sigbaarheid in die donker is ook baie beperk, dus moet opgraderings met straatligte en dies meer gedoen word.
Hulle het tans ook ’n groot behoefte aan die bou van nog huise vir nog behoeftige inwoners.
Tuindorp is uiters afhanklik van die skenkings van verskeie maatskappye en individue om hulle te help met die projekte namate dit ontstaan.
Dus het Vallei Organies en Moov hul harte en beursies oopgemaak om hierdie baie belangrike instansie te help om die inwoners se lewe makliker te maak.
Vallei Organies en Moov het vanjaar R215 000 vir hierdie doeleinde ingesamel danksy die Neethling Charity Cup.





