Talle kinders gaan tans gebuk onder erge maagkrampe en diarree, maar volgens kenners blyk dit nie ’n krisis te wees nie.

Dr. Marietjie Theron van Worcester is al langer as drie dekades ’n ervare dokter in die dorp en staan pasiënte dag ná dag met mediese hulp by.

Volgens Theron is dit nou die voor-winter-maagvirus wat jaarliks opduik en verantwoordelik is vir gevalle van gastro-enteritis, wat by veral jongelinge gediagnoseer word.

“Dit is maar jaarliks dieselfde patroon en siklus wat hom herhaal. Hierdie tyd is gewoonlik die tyd wanneer mense veral baie maagvirusse opdoen. Gastro-enteritis (wat ook deur salmonella veroorsaak kan word) is ’n afstammeling van die rota-virus en die meeste kinders word op ’n jong ouderdom hierteen beskerm deur spesiale druppels, maar nes Covid-19 muteer hierdie virus ook en kry ’n mens verskeie vorms wat dan tot maagkrampe, diarree en ontwatering kan lei,” voeg Theron by.

’n Plaaslike tiener is die afgelope naweek in ’n noodtoestand na die hospitaal gejaag nadat sy simptome hiervan begin wys het, maar ’n ernstige koors daarby ontwikkel het. Dit het later geblyk sy het salmonella opgeneem nadat sy ’n uitermatig hoë infeksietelling in haar bloed gehad het.

Standard verneem ook dat ’n hele gesin van Sutherland onlangs vir salmonella behandel is. Salmonella is ’n voedselverwante siekte wat die maag teiken en ’n mens baie siek maak. Dit kom veral in eiers en vleis voor.

Talle meen beurtkrag kan ook tot swak gehalte van kos bydra, wat dan kan veroorsaak dat mense salmonella kan inkry.

Theron meen egter hier kom nie soveel gevalle daarvan voor nie.

“Ons kry dit, maar nie meer of minder as vorige jare nie. Daar is wel baie gevalle van gastro-enteritis, maar dis nie rede vir kommer nie. Dit is normaal vir hierdie tyd van die jaar.”

Sy meen mense kan medikasie oor die toonbank kry om dit te beveg.

“ ’n Mens kan direk apteek toe gaan. Dit word nie met antibiotika behandel nie. Aptekers weet wat om te gee. In ernstige gevalle moet ’n dokter egter so gou as moontlik besoek word.

Mense moet ook hul hande gereeld was en eerder tuisbly vir ’n dag of twee – veral kinders, want dit versprei baie vinnig by skole en in kleuterskole,” waarsku sy.

Ouers moet simptome dophou en eerder dadelik mediese hulp inwin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article