“My ma is terug!!!” het die bekende slangvanger van Montagu, Gerrie Heyns, op sy Facebook-blad uitbasuin, nadat sy oorlede moeder se as wat tydens `n inbraak gesteel is, deur die plaaslike polisie teruggevind is.

Heyns het op Maandag, 8 Januarie, `n inbreker in sy huis op Montagu betrap en na `n gestoeiery, daarin geslaag om die boef in `n kamer waar hy van sy slange op hok hou, toe te sluit.

Die booswig het dit egter reggekry om deur `n venster te ontsnap. Hy het ook `n paar items, onder andere, `n klein houtkissie met Heyns se oorlede moeder se as daarin, gebuit.

Heyns was egter vol lof vir die plaaslike polisie se flinke diens tydens en na die voorval.

Die vermeende inbrekers – die een wat buite die huis was, het hom glo uit die voete gemaak toe hy onraad vermoed het – was kort na die voorval deur lede van Montagu-polisie se C-skof wat nagskof gewerk het, gearresteer.

“Ons het op die toneel `n klere beskrywing van die vermeende inbreker by `n sekuriteitsbeampte gekry en onmiddellik na die verdagte begin soek,” vertel sers. Cedric Cupido.

Minute later het die polisiebeamptes `n persoon wat aan die beskrywing voldoen het op Muskadelweg, oppad na die Ashburywoonbuurt, gesien en genader. Die verdagte persoon is ge-visenteer en na bewering is een van die gesteelde items in sy besit gevind.

Na verdere ondervraging het die verdagte met die hele sak patats uitgekom.

Binne `n uur na die voorval was beide boosdoeners, onderskeidelik, 29 en 33 jaar oud, agter trallies. Die kissie met die stoflike oorskot was egter steeds soek.

Volgens sers. Vernol Kleyn, skofbevelvoerder van C-skof, het die gesteelde kissie met die as wat steeds vermis was, hulle egter geweldig gepla.

Dus, toe hulle van hul vier dae rusperiode terugkeer, het hulle, volgens Kleyn, weer na die een verdagte se woning gegaan en met sy ouers se toesteming hul werf in die agterkant van die huis vir die kissie met sy inhoud gefynkam.

Kleyn verduidelik: “Ons het ook maar op Faceboek gesien die kissie met die as is nog nie gekry nie. Ek het vir Puffy (`n kollega) gesê ons moet weer daar gaan kyk. Ons het so gemaak en toe kry ons dit. Weggesteek tussen ou ysters, naby `n ou kar wat daar gestaan het.”

Die twee beamptes het toe vir Heyns gekontak en sy geliefde moeder se stoflike oorskot vir hom geneem. Volgens Kleyn was Heyns verskriklik bly om sy ma se as terug te hê.

Volgens `n Facebook-inskrywing van Heyns was hy beslis baie beïndruk met dié betrokke polisielede se toewyding en deursettingsvermoëns.

“Wat het ek gesê van Montagu se polisie … ek het altyd gesê ons polisielede hier is topgehalte.

“Vanmiddag (Sondag) was dieselfde twee polisiemanne wat minute na die inbraak en die aanval by my huis was – die polisiemanne wat die boosdoeners binne `n uur na die voorval gevang het – weer saam aan diens.

“Hulle het besluit om weer by die een persoon se huis te gaan soek, want (op die dag van die voorval) dit was donker en alles het baie vinnig gebeur.

“Hulle het ‘haar’ gevind, op die werf, weggesteek onder `n ou motor. Hulle bel my toe om te vra of ek tuis is. En toe het hulle gekom en ons verras deur ‘haar’ aan ons terug te besorg.

“Dankie weer eens vir alles en vir die ekstra myl,” het Heyns op sy Facebookblad geskryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article