Die ma van ’n negejarige meisietjie, wat twee maande gelede in ’n huisbrand omgekom het, is onlangs dood – ook weens brandwonde wat sy in die noodlottige brand opgedoen het.
Tesnay Frieslaar het op 29 Junie gesterf nadat die huis waarin sy en haar ma, Jeanette, in Droëheuwel, Robertson, gewoon het, vlamgevat het.
Die ma en dogter het saam televisie gekyk toe die brand uitgebreek het.
Volgens Anneline Mouries, Jeanette se ma, het Tesnay in die badkamer geskuil, maar toe Jeanette besef die vlamme raak te erg, kon sy haar dogter nie betyds uitkry nie. Die dak van die huis het kort daarna ingeval en klein Tesnay is op die toneel dood.
Jeanette het die afgelope maande talle operasies ondergaan nadat sy in die Tygerberg-hospitaal opgeneem is. Volgens haar ma het dit gelyk sy sterk goed aan, maar het ook haar afdae gehad.
“Sy was eendag reg en dan weer die volgende dag af – veral wanneer sy uit die teater gekom het, was sy ’n bietjie swak. Sy het vir ontelbare operasies gegaan, waaronder veloorplantings. Hulle moes ook elke dag die dooie vel afskrop. Die dokter het gesê sy wou nie altyd in die teater wees nie, maar dit wat hulle gedoen het, was baie nodig vir haar gesondheid.”
Die familie is omtrent twee weke gelede ontbied en ingelig dat Jeanette se organe besig was om in te gee. Sy verduidelik Jeanette het na aan die einde lekker begin eet het en met hulle gepraat. “Sy het kort voor haar dood gevra om die video van Tesnay se begrafnis te kyk, maar my broer, wat pal aan haar sy was, wou dit nie vir haar wys nie. Hy het gesê sy moet eers op haar eie gesondheid fokus. Nou is ons spyt ons het dit nie vir haar gewys nie. My broer het ook verlede week laat weet sy het begin eet; sy het sommer lekker geëet en almal se kos opgeëet.”
Die dokters het die familie egter op Donderdag 29 Augustus weer ontbied.
“Ek was al op pad werk toe toe die dokter bel en ek dink toe ek gaan nou sommer ryloop hospitaal toe, maar familielede het vir my ’n geleentheid gekry. Toe ek daar kom, was die masjiene reeds afgesit. Haar stelsel was egter nog vol van die adrenalien waarop sy was.”
Mouries kon toe nog haar dogter se laaste twee ure saam met haar deurbring.
“Ek het toe net gou uit die hospitaal gegaan, maar toe ek teruggaan na haar kamer toe, kon ek sien haar asemhaling het verander. Haar borskas het baie anders beweeg. Toe roep ek die suster en vra of daar niks is wat hulle vir haar kan doen nie. Hulle het verduidelik dat haar organe reeds ophou werk het en dus kon hulle haar nie langer aan die lewe hou nie.”
Dit was vir Mouries die mees ondenkbare oomblik van haar lewe.
“Ek kon toe net daar staan en niks doen nie. Dit was die seerste seer wat ek nog ooit ervaar het. Al wat ek kon dink, was dat ek nooit weer haar mooie glimlag sou sien nie,” vertel ’n bedroefde Mouries, wat haar dogter met die mooiste herinnering sal onthou.
“Sy was elke dag dieselfde. Die mense hier rond het al gesê hulle mis haar. Hulle het altyd gesê sy is hul wekker.
Wanneer sy soggens pad-af geloop het, het sy vir almal “môre” geskree met een van haar snaakse sêgoed. Sy was ’n lieflike mens.”
Jeanette is Sondag (8 September) ter ruste gelê.





