Die lewe van ’n jong ma van Montagu is Saterdag (14 Desember) in die vroeë oggendure wreed kortgeknip toe ’n jaloerse gewese kêrel van haar haar na bewering verskeie kere met ’n mes gesteek het.
Shimoné Fluks (32) se aanvaller het haar in die kop, nek en hart gesteek. Sy het ten tyde van die voorval saam met vriende by ’n huis in Fluksstraat, Montagu, gekuier.
Die oorledene se broer, Sebastiaan Abrahams, het aan Standard Breederivier Gazette gesê sy suster het ’n ruk gelede al haar verhouding met die verdagte weens mishandeling en doodsdreigemente beëindig.
“Hy het haar vantevore gedreig en gesê ‘as hy haar nie kan kry nie, gaan niemand haar kry nie’. Hy was dus bereid om haar dood te maak.”
Abrahams sê sy suster wou in ’n stadium nie haar voete uit die huis sit nie omdat sy bang was vir die man.
“Wanneer my suster wel uitgegaan het, het hy altyd rondgevra waar sy is sodat hy daarheen kon gaan om haar ’n moeilike tyd te gee.
“Soos in die geval Saterdag het hy iewers uitgevind sy kuier by vriende in Fluksstraat.”
Fluks het ’n elfjarige dogtertjie, Skye.
“Ons het vir haar gesê haar ma is oorlede. ’n Mens kan sien dit raak haar baie, want sy is nou baie stil en teruggetrokke. Haar (Skye se) skoolhoof het ook ondersteuning kom bied.”
Volgens Abrahams het sy suster nie ’n beskermingsbevel teen haar aanvaller gehad nie. Hy sê sy het wel al ’n aanrandingsaak teen hom gemaak, maar dit weer teruggetrek.
“Sy was ’n lieflike mens. ’n Mens kan nie glo dat sy op so ’n tragiese manier gesterf het nie en dit aan die hand van ’n ander mens.”
Abrahams is die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se distriksvoorsitter in die Kaapse Wynland en adjunk GPF-voorsitter in die Wes-Kaap.
“Dis tragies dat ek nou uitgevind het waardeur my suster gegaan het. Ek is ’n man wat daar is om gemeenskappe te help veilig hou, maar nou kon ek nie eens my eie suster teen iets soos hierdie beskerm nie. Maar jy kan nie mense beskerm as jy nie weet nie.
“Hy moet net uit die samelewing verwyder word. Hy het gegaan met die doel om haar dood te maak. Hy het nie vir een oomblik aan haar dogtertjie gedink nie.”
Volgens Abrahams is sy suster se aanvaller dieselfde dag nog in hegtenis geneem. Begrafnisreëlings is in dié stadium nog nie gefinaliseer nie.





