’n Ma van Worcester moes haar sesjarige dogtertjie uit die kake van ’n aggressiewe bulterriër red nadat die hond die kleuter net ewe skielik aangeval het.
Veronica Peters (26) het verlede naweek saam met haar kêrel en hul dogtertjie, Vasti (6), by familie in Robertson gaan kuier en die Sondag (28 Augustus) oudergewoonte ’n gesellige braai-kuier gehou.
Veronica en haar niggie was besig om bygeregte in die kombuis voor te berei toe sy een hengse gil in die voortuin hoor.
“Ek het dadelik geweet dis Vasti. Ek het alles neergegooi en gehardloop. Ek ken mos my kind. Ek weet wanneer daar regtig iets fout is.”
Toe Veronica by die voordeur kom, het sy gesien hoe haar klein dogtertjie se lyfie teen die sement vasgedruk word en haar niggie se bulterriër, Spencer, haar aanval.
“Ek is baie bang vir honde. Ek kom nie naby hulle nie. Op daardie oomblik het ek nie gedink nie en net gedoen,” verduidelik Veronica verder.
Sy het ingetree en dadelik die hond aan sy halsband gevat en afgegooi van haar dogter se beseerde lyfie af. Sy sê sy het net bloed gesien en haar dogtertjie, wat rukkend en huilend aan haar vasgeklou het, na die badkamer geneem.
“Ek het dadelik die bytmerke gaan ontsmet. Dit was vir haar vreeslik seer. Ek het nie eens agtergekom dat die hond my ook in die proses gebyt het nie. Ek het net op klein Vasti gefokus.”
Vasti se armpie het ’n lelike bytmerk en sy moes later die dag steke by die plaaslike hospitaal op haar lies ontvang.
“Haar lies het ’n lelike merk op, en ook haar arm. My hand het ook ’n merk, maar ek sal enigiets vir haar (Vasti) doen. Dit kon soveel erger gewees het,” vertel die vreeslose ma verder.
Na bewering was die bulterriër aan die kant van die huis toegesluit, maar een van die ander kinders het met die hek gespeel en hom uitgelaat.
“Vasti het saam met haar maatjie in die voortuin speletjies gespeel. Op daardie tydstip het die maatjie badkamer toe gegaan en Vasti was alleen. Ek is so bly ek kon betyds daar uitkom.”
Sy voeg ook by dat hulle nie kwade gevoelens het teenoor die eienaars van die hond of die hond self nie. “Hulle is maar so. ’n Mens is maar bang vir hulle, maar die hond gaan nou opleiding ondergaan.”
Vasti sê sy is nou ’n “superhero” nadat sy dié aanval oorleef het en sien uit om vandeesweek weer saam met haar maats skool toe te gaan.

