Beatrice Willemse saam met Gianno en Arthrunique. Foto:


Die verloofde van Gianno Triskey en ma van Arthrunique, wat albei Sondag 8 Oktober in ’n motorongeluk oorlede is, sê sy vat dit “dag vir dag”.

Beatrice Willemse was in die hospitaal toe die ongeluk haar twee geliefdes van haar weggeruk het. Sy het die dag vantevore eers uitgevind sy is swanger met die paartjie se tweede kind.

“Ek het die Saterdagoggend wakker geskrik en ontdek wat geblyk het my water het gebreek. Ek is toe hospitaal toe waar hulle my ingelig het dat ek swanger is. Ek was baie gelukkig toe ek uitvind daar’s nog ’n baba op pad. Ek het dadelik vir Gianno laat weet en hy was net so gelukkig oor die nuus. Ek is toe in die hospitaal opgeneem.”

Sy het dié Sondag kort ná die ongeluk deur middel van Facebook van die ongeluk uitgevind.

“Ek het die voertuig in die foto wat die rondes op Facebook gedoen het, herken.”

Haar blydskap oor die nuwe lewe wat op pad is, is onmiddellik vervang met diepe hartseer vir dié wat verloor is.

“Toe ek besef hulle twee is dood, was ek in skok. Ek het baie seergemaak gevoel. Hy was die liefde van my lewe, hy was ons broodwinner en sy was my alles. Ons was vir drie jaar saam en bietjie meer as ’n jaar verloof. Ons sou volgende jaar trou en het reeds met die trouplanne begin.”

Willemse het twee dae ná die noodlottige ongeluk geboorte geskenk aan ’n gesonde babadogtertjie.

“Dit was vir my baie moeilik omdat dit veronderstel is om ’n gelukkige dag te wees. Maar ek voel dat sy ’n stukkie van haar pa en haar suster in haar het.”

Die kleine Giannique Willemse is tans al ding wat haar ma aan die gang hou.

“Aan die een kant is ek hartseer dat sy nie kans gaan kry om haar pa en suster te ken nie, maar aan die ander kant het sy my in haar lewe. Ek en sy gaan die paadjie van die lewe saam stap. As sy nie hier was nie, sou ek seker teen dié tyd al iets aan myself gedoen het. Gianno en Arthrunique was my alles; my hele lewe.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article