AnnaMarie Burger en haar seun, Isak, speel saam in die verhoogproduksie Huismoles. Foto: Enrico Claassen


Sewentien jaar nadat sy drama as vak op hoërskool gehad het, het ’n groot eer ’n ma van Avianpark in Worcester onlangs te beurt geval toe sy haar eerste rol in ’n plaaslike verhoogproduksie losgeslaan het.

Wat die produksie nog meer spesiaal vir haar maak, is die feit dat sy die verhoog met haar sewejarige seuntjie deel.

AnnaMarie Burger (31) sê sy moet haarself so af en toe knyp om seker te maak dis nie alles net ’n droom nie.

Burger, ’n oud-leerder van Worcester Senior Sekondêr, het aan Standard & Breederivier Gazette gesê sy het drama in graad 10 as vak op skool gehad.

“Op skool het ons die heeltyd net rehearsals gedoen. Ons het nooit ons talente op ’n verhoog voor ’n gehoor ten toon gestel nie. Ek kon dus nie my droom uitleef nie.”

Burger sê ná skool het sy steeds gehunker na ’n rol in ’n verhoogproduksie, maar steeds was daar nooit ’n geleentheid nie totdat haar pad met dié van Neville Wentzel, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die verhoogproduksie Huismoles, gekruis het.

In Huismoles word maatskaplike kwessies, waaronder vrouemishandeling, drank- en dwelmmisbruik, tienerswangerskappe en gestremdheid, onder die vergrootglas geplaas.

Volgens Burger het haar sewejarige seun, Isak, vroeër vanjaar ’n rol in Huismoles losgeslaan.

Sy het hom gereeld na repetisies vir die produksie vergesel en dan toegekyk hoe die akteurs vir die produksie repeteer.

Sy sê haar deurbraak het gekom toe een van die akteurs, wat die rol van ds. Klaase vertolk, uitgeval het.

’n Plaasvervanger moes dringend gevind word.

Volgens haar het Sammy Louw, wat die rol van Oom Bert in die produksie vertolk, haar daaraan herinner dat sy drama op skool gedoen het, ’n paar dramatekste geskryf het, dat sy sedert Februarie vanjaar repetisies bygewoon het en teen dié tyd al ds. Klaase se dialoog behoort te ken.

AnnaMarie sê sy het die dominee-karakter tydens repetisies fyn dopgehou en teen daardie tyd reeds geweet wat dié karakter behels.

“Hoewel die vrees ingeskop het, het ek vir myself gesê ‘dis nou of nooit’. Hier is my kans nou.”

Volgens AnnaMarie het sy besluit om haar vir die rol beskikbaar te stel en onmiddellik ingespring.

Sy het ’n babaseun van ’n jaar en ses maande oud ook, en dit is maar altyd ’n uitdaging om iemand te vind om na hom om te sien wanneer sy repeteer omdat haar man, Heinrich, skofte werk.

“Daar was tye dat ek my baba moes saamneem na die repetisies omdat ek niemand wou teleurstel nie.

“Ek is so dankbaar vir die geleentheid wat Neville aan my gegee het om deel te kan wees van die rolverdeling en dankbaar vir die vertroue wat hulle in my gestel het.”

Huismoles word van 8 tot 10 Augustus in die Kleinteater in Russellstraat, Worcester, opgevoer.

Kaartjies kos R120 elk en is beskikbaar by Vallei FM se kantoor in Greystraat, en ook by Quenet’s Apteek asook Hugo’s Café in die Quenet’s Arkade.

Die verrigtinge begin stiptelik om 19:00 en die drag is streng formeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article