’n Ma en dogter van De Doorns het albei vroeër vandeesmaand toekennings ontvang vir die werk wat hulle in Doha, Katar, doen.
Die Panache Women of Wonder-toekennings is op 10 Mei gehou. Hierdie toekenning is internasionaal erken en 1 000 vroue het dit vanjaar in Suid-Afrika, Mauritius, Londen, Indië en Doebai ontvang.
“Farzana Mayet is die hoof en organiseerder van hierdie geleenthede om erkenning te gee aan vroue oor die hele wêreld. Hulle eer vroue vir hul uitstaande en onbaatsugtige toewyding om ander te help om hul volle potensiaal te bereik, terwyl hul positiewe bydraes ’n impak maak binne hul gebied en ook verder. Hulle gee erkenning aan vroue wat uitsonderlike leierskap, innovasie en invloed getoon het,” verduidelik Sofia Eviesen, een van die plaaslike ontvangers van die toekenning.
Eviesen werk as ’n kliniese verpleegleier, en het die toekenning juis vir haar werk ontvang.
“Dit was ’n wonderlike geleentheid en ’n “goed-voel”-oomblik. ’n Mens dink mos altyd dit sal nie met jou gebeur nie,” vertel Eviesen uit Doha.
Hoewel hierdie toekenning onverwags was, is sy tog baie trots op haarself.
“Die toekenning beteken baie vir my, want my droom het ’n werklikheid geword. My familie kyk op na my en ek is trots op myself. Ek het nie toegelaat dat armoede en omstandighede my einddoel bepaal nie. My voete bly plat op die aarde, want my ma het my altyd herinner om nooit te vergeet waar ek vandaan kom nie.”
Sy het 34 jaar gelede besluit om ’n loopbaan in verpleegkunde te volg om mense te help.
“Ek wou mense help; die seer wegneem wat ’n mens so baie in die gemeenskappe sien. My ma het almal gedokter – mense en diere. Ons het altyd grappe daaroor gemaak en gelag, maar ek dink die omgee en naasteliefde kom van haar af.”
Eviesen werk al sedert 2005 in die buiteland en het eers in Saoedië-Arabië gewerk.
“Ek het egter in 2017 in Doha begin werk. Ek werk al sedert 2005 in die Midde-Ooste. Ek het vir agt jaar in Saoedi-Arabië gewerk en werk nou al sewe jaar in Doha, Katar.
“Die werksomstandighede is baie beter hier. Ons word ordentlik vergoed vir die werk wat ons doen en ons kry goeie voordele. Ons word waardeer.”
Sy is ook die stigter van die alombekende De Doorns-Gemeenskapsblad op Facebook en het ’n baie spesiale plek in haar hart vir daardie dorp en sy mense.
“Ek gaan kuier gereeld in De Doorns. Dis my mense; daar is ek op my gemak om tussen my familie en vriende te wees. Die Hexvallei het ’n spesiale bekoring vir my.
“Onthou, ek het grootgeword en kinderdrome gehad, wat vandag ’n realiteit is. Ek het ’n boek geskryf – Drome sonder grense – en daar is ’n spesiale gedig oor my drome vir die Hexvallei. ’n Mens hoef nie te stagneer waar jy is nie,” sê Sofia.
“Ek het die blad in Desember 2017 begin. Ek kuier by al die oumense en luister na almal se lief en leed. Toe kry ek die idee om die Facebookblad te begin. Ek wens net ek kon meer doen vir De Doorns se mense. Gemeenskap is om daar te wees vir jou mense. Dis nie altyd moontlik nie. Ek probeer waar ek kan. Niemand hoef te weet wat ek vir wie doen nie. Mens weet, ek doen nie dinge om gesien te word nie. Dis net om die nood te verlig. Ek maak dus nie eintlik ’n ophef van wat ek nie doen nie.”
Haar dogter, Stephanie Eviesen, is ’n onderwyser in Doha. Sy het in 2020 gegaan om by haar ma te gaan kuier, maar met die Covid-19-beperkings kon sy nie terugvlieg nie en het toe daar begin werk soek.
“Ek het 2020 Doha toe getrek. Ek wou nader aan my ma wees en het aanvanklik net gegaan vir vakansie, maar met die Covid-beperkings kon ek nie terugvlieg nie en ek het toe besluit om werk te soek. Ek was gelukkig om ’n werk as ’n onderwyser gekry, en soos hulle sê, the rest is history.”
Stephanie voel verheug en vereer deur die toekenning wat sy ontvang het.
“Dit was baie onverwags. Ek is verheug en geëerd – veral om saam my met ma, wat my rolmodel is, benoem te wees.
“Die toekenning beteken baie vir my omdat dit net weer eens bewys – dit maak nie saak wat jy doen nie, solank jy probeer om ’n verskil in iemand se lewe te maak.”





