Die Worcester-Moslemgemeente in Durbanstraat, wat vanjaar op 9 Mei hul 145ste bestaansjaar gevier het, het Sondag 22 Mei met ’n oggend van “nostalgie en ’n gemis van die verlede” die gemeente in vervoering gehad met vertellings deur verskeie sprekers en staaltjies uit vroeër dae.

Al-Ameen Kaffaar, ’n gemeentekind wat as programdirekteur opgetree het, het met sy raakvat sê-goed die aanwesiges geboei.

Een van die gemeente se geestelike leiers, Anver Sedan, het vreeslik moeite gedoen om die feesvieringe ’n sukses te maak, en het nie net die gemeente se ontstaan en geskiedenis in diepte nagevors nie, maar ook kundiges uit die gemeenskap en gemeente gekry om die samekoms soveel meer kleur te gee.

’n Oud-gemeentelid en hoof van die Moslemskool, Rashaad Moosa, het vertel van die skool se ontstaan langs die masjied en die latere verskuiwing na Afrikastraat waar dit vandag geleë is. Volgens hom was die stigting en groei van die Moslemskool instrumenteel tot die groei van die Jamaah.

Daar is in 1925 begin met die bou van ’n skool vir Moslemkinders, en in 1930 is daar daadwerklik begin om die skool gevestig te kry.

Rashaad se oom, Ebrahim Moosa, het in 1934 daar begin skoolhou. Later het sy oorlede pa, Jack Moosa, ook daar begin totdat die skool so uitgebrei het dat daar in 1959 begin is met die bou van ’n nuwe skool wat in Januarie 1963 in Africastraat oopgemaak het.

Daarna het die oud-skoolhoof, later kringbestuurder en deesdae waarnemende skoolhoof by Worcester Senior Sekondêr, vir 26 jaar op die Jamaah se bestuur gedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article