Lucresia Sedras is Worcester Sekondêre Skool se topmatriekleerder. Saam met haar is haar dogter. Foto: Tamsyn Jantjies


Worcester Sekondêre Skool se topmatriekleerder, Lucresia Sedras, sien uit daarna om vanjaar regte by die Universiteit van Wes-Kaapland te gaan studeer.

Sy het maar die trane teruggesluk toe sy verlede Vrydag as die skool se topmatriekleerder aangekondig is.

“Ek was ’n bietjie emosioneel, maar ek wou nie in die saal voor almal huil nie,” sê sy.

Alhoewel sy nie verwag het om die skool se topleerder te wees nie, was dit iets waarna sy gestrewe het.

“Ek het glad nie verwag dat ek nommer een by die skool sou wees nie. Dit was wel my doel en iets waarvoor ek hard gewerk het.”

Lucresia het ’n dogter en volgens haar was dit haar grootste inspirasie en motivering tydens haar eindeksamen.

“My dogtertjie, Rayneesia, wat amper twee jaar oud is, was nog altyd my motivering. Sy was ook my motivering om my skoolloopbaan ná haar geboorte te voltooi. Al wat ek aan kon dink tydens die eksamen was dat ek vir haar ’n beter toekoms wil gee. En dis hoekom ek doodeenvoudig my doel moes bereik deur te slaag.”

Lucresia vertel verder dat sy nog altyd ’n prokureur wou word “om minderbevoorregte mense te help”.

“Ek sien daagliks hoe mense sukkel omdat hulle nie geld het om die regte regsadvies of hulp te kan bekostig nie.”

Vir nou sien Lucresia uit na haar klasse wat op 15 Februarie begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article