June van Merch en Helene Truter is te sien in ’n prettige oomblik in die heerlike komediese drama #Lovemyselfie.

Credit: SYSTEM

Die langverwagte komediese drama, #Lovemyselfie, maak van 14 Maart af ’n Worcesterse draai.

Gehore kan ’n mengelmoes emosies verwag – van bittersoet tot lag-uit-die-maag-oomblikke. #Lovemyselfie belowe pure vermaak met hart.

Die fliek pronk met ’n uitstaande rolverdeling wat bekendes soos Illse Roos, Kevin Smith, June van Merch, Hélène Truter, Joannie Combrink, en Lida Botha insluit.

#Lovemyselfie vertel die verhaal van ’n plaaslike TV-ster, Adele Swan, wat – nadat sy die verraad van haar verloofde ontdek – ’n reis van selfontdekking aanpak.

Wanneer sy ’n kans kry om haar finansiële stabiliteit te herwin deur die gesig van ’n veldtog op ’n luukse plesierboot te word, raak Adele verstrengel in onverwagte avonture en herontdek sy ou verhoudings.

#Lovemyselfie het geskiedenis gemaak as die eerste Suid-Afrikaanse fliek wat op ’n MSC-plesierboot verfilm is. Ten spyte van die uitdagings om deur die nag te werk om nie vakansiegangers te pla nie, het die rolverdeling en bemanning hulle goed van hul taak gekwyt en altyd professioneel gebly.

“Ek kon nie vir ’n beter fliek en akteurspan gevra het nie. Ten spyte van lang ure, waar ons tussen elfuur in die aand en sesuur die oggend verfilm het, het die span professioneel en positief gebly, en dit wys regtig op die skerm,” sê Like Berning, die regisseur.

“Die ondersteuning van Ross Volk en sy fantastiese span by MSC Cruises het ’n groot verskil gemaak. Ons is werklik dankbaar dat hulle dit moontlik gemaak het,” sê Berning.

“Ons is verheug om saam met die span agter #Lovemyselfie te werk. Hierdie vennootskap beklemtoon ons toewyding tot die ondersteuning van plaaslike talent en stories – veral in die lig van die uitdagings wat die rolprentbedryf as gevolg van die Covid-19-pandemie in die gesig staar,” het Ross Volk, direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika, tydens die verfilming gesê.

Naas die hoofspelers bied die fliek ook uitsonderlike talent in ondersteunende rolle, insluitend die TikTok-sensasie Chané Grobler, die komediant Moses Williams, Robyn Scott, Chanelle de Jager, Chris van Niekerk, Thokozile Ntsinga, en ’n kamee-vertolking deur die mede-vervaardiger Kurt Darren.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article