Daar was ’n tyd toe ek gedink het net goed wat nie vas is nie, word gesteel. Dit was nogal ’n ontnugtering toe ek op die harde manier uitvind dis nie heeltemal waar nie.

Ons huis se straatnommer was daardie tyd 1363 en dit was mooi in koper op die houthek vasgeskroef. Dit was nog voor die tyd toe helfte van ’n mense se salaris op elektrisiteit en petrol uitgegee moes word.

Maar een aand toe ons by die huis kom, is al die nommers netjies afgeskroef en gesteel. En dis belangrik dat daar wel ’n nommer is. Toe besluit ons om die nommers netjies na te verf, presies daar waar hulle teen die hek gesit het. Ons nommer is toe nooit weer gesteel nie.

Deesdae sien ’n mens al hoe meer op ons plattelandse paaie die rye en rye telefoonpale waartussen daar net mooi niks oor is nie. Want snags is daar sulke snaakse goetertjies met tange wat dit afsteel. En dan is daar ander snaakse spesies wat dit koop.

Nou die aand tref dit my: ons wat belasting en vir dienste betaal, het vir daardie kabels betaal. Ons hou dus ’n hele bedryf van koperkabelsteel aan die gang. Om die kabels eerder ondergronds te lê, help ook nie veel nie, want dit word maar net weer, binne drie dae nadat dit vervang is, van ’n punt af uitgetorring.

Natuurlik kan daar nie ’n wag aangestel word vir elke kabel in die land nie. Maar daar is ander maniere. Kabels is nie verniet geleiers nie en kan ’n sein na hommeltuie uitstuur sodra daarmee gepeuter word. Die hommeltuig kan vinnig op die diewe afpyl en hulle dophou, en outomaties die veiligheidsdienste ontbied.

En so kan ’n heel nuwe bedryf tot stand kom teen kabeldiefstal: hommelwagte. Hulle beweeg geruisloos en die diewe sal nie eens weet hulle word dopgehou nie.

Ten diepste is die oorsaak van hierdie misdaad armoede. Mense is honger. Maar is dit die verbruiker se probleem?

Dit bring my by die ander klip in my skoen. Deesdae sien ’n mens al hoe meer hoe inwoners sommer self inspring en slaggate in die paaie regmaak. Hoe edel die bedoelings ook al is, stuit dit my teen die bors.

Betaal ons dan nie belasting sodat ons rybare paaie kan hê nie? Nou hoekom moet ons dan nog geld uitgee om iemand anders se werk vir hulle te doen? Ek sê nee, staak dit. As ons aanhoudend wys ons is bereid om so gekul en uitgebuit te word, skep dit ’n presedent.

Plaaslike owerhede het gans te gemaklik geraak met die idee dat die verbruiker mos maar kan betaal. Vuisvoos of te not, melk hom tot daar net stof uit die spene kom. En as dit steeds nie genoeg is nie? Gaan hulle dan die eend slag wat die goue eiers lê?

Munisipaliteite moet hul plig nakom en ophou mooi broodjies bak kort voor ‘’n verkiesing. Gee ons waarvoor ons betaal, dan is almal gelukkig. Maak ons paaie reg. Ons verdien niks minder nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article