Agri Wes-Kaap verneem met teleurstelling dat die nasionale minimumloon met ingang 1 Maart met 8,5% tot R27,58 per uur sal styg.

“Ons is teleurgesteld dat die Minimumloonkommissie nie georganiseerde landbou se aanbeveling om die minimumloon op ’n volhoubare manier te verhoog, in ag geneem het nie,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Agri Wes-Kaap het by die kommissie gepleit om werkskepping, die behoud van huidige werksgeleenthede en die finansiële implikasie vir ondernemings as die kernprioriteit tydens die hersiening van die minimumloon te beskou.

“Ons het daarom kommentaar gelewer dat die verhoging in verhouding tot die inflasiekoers oorweeg moet word,” voer hy verder aan.

Agri Wes-Kaap ondersteun ’n volhoubare lewensloon, maar ’n verhoging bo inflasie kan nie geregverdig word nie.

Produsente is prysnemers wie se kontantvloei reeds onder enorme druk is.

“Hoewel baie permanente Agri-werkers reeds meer as die minimumloon verdien, kan landbou nie jaarlikse verhogings bo inflasie in een produksie-inset bekostig nie,” sê Strydom. “Dit sal aansienlik bydra tot die kosteknyptang.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article