Die veiligheidskameras in Riverview is Vrydag aangeskakel.
In Junie vanjaar het die BVM se uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, hierdie plan bekend gemaak. Toe het sy gesê hulle oorweeg dit om hierdie kameras in Riverview en Avianpark aan te bring. Hulle het eers die plan in Riverview uitgerol.
“Die kameras werk baie mooi. Hulle het dit vir ’n rukkie getoets en alles het baie goed gewerk en dus is die kameras verlede Vrydag aangesit,” verduidelik Steyn.
In Julie het sy verduidelik die polisie het haar genader om hulp in hierdie gebiede weens die erge misdaad en geweld wat toeneem.
“Hierdie gebiede het voortdurende uitdagings met geweld. Dis hoekom die polisie gevra het dat ons kameras hier begin aanbring,” het sy in Junie gesê.
Verskeie belanghebbendes maak deel uit van hierdie projek, soos die polisie en sekerheidsmaatskappye. Die belanghebbendes en die wat die kamerastelsel monitor het selfs ook toepassings op hul fone om hulself beter van hul taak te kwyt.
“Hierdie kameras gaan beslis die polisie en sekerheidsmaatskappye help met die verskeie uitdagings wat hulle dag na dag moet oorkom. Veral ook omdat ons nou die feestyd betree,” sê Steyn.
Voorts verduidelik sy die gemeenskap is dankbaar vir hierdie bykomende element van veiligheid.
“Meeste mense in die gemeenskap is baie dankbaar. Almal voel alreeds veiliger en selfs die kinders voel ook veiliger terwyl hulle buite speel.”
Raadslid Jofferey Jack, wat al 44 jaar in die gebied bly, meen die veiligheidskameras is ’n positiewe bydrae.
“Ek ken die gebied se kulture en daaglikse dinge wat hier aangaan. Ons gemeenskap is ook oor die jare heen deur bendebedrywigheid oorgeneem. Die kameras gaan beslis ’n positiewe bydrae lewer tot die gemeenskap se veiligheid. Ek hoop ook van harte dat die gemeenskap hul samewerking gaan gee om vorentoe misdaad en vrees in ons gemeenskap hok te slaan.”
Die kameras draai 360 grade en bedek taamlik groot gebiede en kan ook baie goed inzoem. Tot dusver is vier kameras teen ’n koste van R450 000 geïnstalleer. Die kameras, wat in die Riverview-woonstelle opgerig is, dek die volgende gebiede: Die eerste kamera dek die U-, V-, G- en H-blok; die tweede kamera dek die W-, X-, E-, F-blok; die derde kamera dek die AA-, BB-, A- en B-blok en die vierde kamera dek die vlak by die geel geboutjie asook die S-, T-, Q-, R-, O- en P-, M- en N-blokke.





