Die vereniging SA Jagters verwelkom die aankondiging deur die SAPD dat vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, nie meer hul vuurwapens hoef in te handig terwyl hule wag vir nuwe lisensies nie.

Hierdie opdrag volg op die uitspraak van die Konstitusionele Hof van 27 Mei 2022 in die hofsaak tussen die SAPD en Fidelity, wat in die hooggeregshof begin het, geëskaleer is na die hoogste hof van appèl, en uiteindelik by die Konstitusionele Hof geëindig het.

Hulle is nie misdadigers nie en is in die meeste gevalle verantwoordelike vuurwapeneienaars wat bloot vergeet het om hul lisensies betyds te hernu.

Fred Camphor, die uitvoerende hoof van SA Jagters, sê hierdie ontwikkeling bring verligting vir ’n geskatte halfmiljoen vuurwapeneienaars wat nie hul vuurwapenlisensies betyds hernu het nie. Dit het meestal die eienaars van handwapens geraak, wie se vuurwapenlisensies (artikel 13) slegs vir vyf jaar geldig is. “Hulle is nie misdadigers nie en is in die meeste gevalle verantwoordelike vuurwapeneienaars wat bloot vergeet het om hul lisensies betyds te hernu. Die SAPD se houding teenoor hierdie vuurwapeneienaars het hulle tot vyftien jaar lank in ’n benarde posisie geplaas omdat hulle op strafregtelike aanklagte teregstaan.”

Die riglyne gee spesifieke instruksies aan burgers wat om ’n nuwe lisensie wil aansoek doen. ’n Aansoeker moet die vuurwapen waarvoor hy/sy ’n nuwe lisensie benodig, tesame met afskrifte van die lisensie wat verval het, aan die aangewese vuurwapenbeampte (DFO) by hul naaste polisiekantoor vir inspeksie en bekragtiging voorlê. Die DFO sal ’n verifikasiesertifikaat uitreik, wat deur beide die aansoeker en die DFO onderteken word. Die vuurwapeneienaar mag die vuurwapen huis toe neem en dit in ’n goedgekeurde kluis berg soos deur die Wet op Vuurwapenbeheer gereguleer word.

Die aansoeker moet aan presies dieselfde vereistes voldoen as dit wat vir die aansoek om ’n lisensie vir ’n nuwe vuurwapen geld, soos ’n geldige bevoegdheidsertifikaat.

Die riglyn handel ook oor vuurwapens uit bestorwe boedels. ’n Afskrif van die eksekuteur se brief en ’n afskrif van die lisensie of identiteitsdokument van die oorledene moet aangeheg word. Die aansoek sal volgens die normale boedelaansoekroete hanteer word.

Die nasionale opdrag aan polisiekantore is uitdruklik in die hof se instruksies oor die proses en die tydsbeperkings wat DFO’s en die Sentrale Vuurwapenregister (CFR) moet volg in die hantering van hierdie aansoeke. Camphor het sy kommer uitgespreek oor die vermoë van die polisie om al die aansoeke te hanteer. “Met die groot agterstand in die stelsel moet nog gesien word of die DFO’s en veral die CFR die voorgeskrewe proses en spertye sal kan volg.”

Lede van SA Jagters wat hulp met hul vuurwapenaansoeke nodig het, kan die nasionale kantoor by 012 808 9300 of by info@sahunt.co.za kontak. Lede van die publiek kan ook die kantoor van SA Jagters nader vir ondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article