By die prysuitdeling van Tulbagh Lions se blindenavigator-tydren is, van links, Derick Vorster (organiseerder, Tulbagh Lions), Andries Burger en Eckhard Kriebel (eerste plek), André Steyn en Leon van Schoor (tweede plek) en Hein Joubert en Philipus Hauptfleisch (derde plek)


Die afgelope Saterdag (8 Junie) het die Tulbagh-Lionsklub, in samewerking met die Blind Navigators Rally Club (BNRC), ’n suksesvolle blindenavigatortydren aangebied.

Hierdie geleentheid het die gemeenskap van Tulbagh en omstreke bymekaargebring vir ’n dag van samehorigheid en avontuur, met 37 spanne wat elk bestaan het uit ’n bestuurder en ’n blinde navigator.

Die tydren het ’n opwindende atmosfeer geskep, waar die spanwerk en die gemeenskap se ondersteuning sentraal gestaan het. Die spanne het ’n geheime roete, wat slegs in braille beskikbaar is, gevolg, met versteekte tydkontroles oor ’n algehele afstand van 100 tot 125 km.

Die dag is afgesluit met nuwe vriendskappe en opgewondenheid vir volgende jaar se tydren, wat beloof om selfs nog groter en beter te wees.

Die topdrie-spanne was soos volg:

. Eerste: Die navigator Andries Burger en sy bestuurder, Eckhard Kriebel;

. Tweede: Die navigator André Steyn en sy bestuurder, Leon van Schoor; en

. Derde: Die navigator Hein Joubert en sy bestuurder, Philipus Hauptfleisch.

Die sukses van hierdie geleentheid sou nie moontlik gewees het sonder die toegewyde span organiseerders en vrywilligers nie.

Spesiale erkenning gaan aan die Lions-president Ria Cronjé, die Lions-lid Derick Vorster, Cheryl Kruger, David Jacobs, Chris de Klerk, Andries Burger, Beryl Green, Deon Toerien en Liz Houston vir hul harde werk en toewyding.

Die Tulbagh-Lionsklub bedank ook die borge wat die prysuitdeling ondersteun het, waaronder Blue Crane Wingerde, Lemberg Wynlandgoed, Theuniskraal Wynlandgoed, Tulbagh Wynkelder en Derick Vorster van Tulbagh Lionsklub.

. Die BNRC bied geleenthede aan blindes en mense met gedeeltelike sig om aan motorsport deel te neem. Hierdie tydrenne is ’n inklusiewe en opwindende sportgeleentheid, waarvan die heel eerste geleentheid in 1966 deur die blinde navigator Graham Pitt en sy vriend Walter Cohen in samewerking met die Wilds Lions Club Johannesburg gereël is.

Die Tulbagh-Lionsklub het sy eerste blindenavigator-tydren in 2000 gereël, gevolg deur nog twee geleenthede in 2001 en 2002. Hierdie jaar se tydren is die vierde in die reeks, ná ’n onderbreking van 22 jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article