Hartwig Lions Krieketklub se o.16-junior span het verlede Saterdag korte mette met Quinn United gemaak en met nege paaltjies geseëvier.
Dié twee spanne het in Orchard United se Burgemeesterstoernooi kragte gemeet. Agt spanne het neem aan die toernooi deel.
Quinn United het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Dit het na die verkeerde besluit gelyk, want Lions het United tot slegs 35 lopies in hul toegelate 15 boulbeurte beperk. Geen kolwer van Quinn kon hond haaraf maak nie en paaltjies het met reëlmaat geval.
Jason-leigh Jacobs het saam met Keathon van Rooyen met die bal verwoesting gesaai en onderskeidelik vier paaltjies vir 16 lopies en vyf paaltjies vir 12 lopies in hul drie boulbeurte geneem. Jason-leigh is as speler van die wedstryd aangewys.
Lions het die verlangde 36 lopies binne ses boulbeurte bereik, met Jaydian Avontuur (24) en Ephrim Lloyd (12) wat die oorwinning verseker het.
Hartwig Lions se juniors speel Saterdag om 11:00 teen Quickies-juniors op Edengarden.
Lions se seniors was Sondag nie so gelukkig nie en het met 12 lopies teen Young Titans verloor.
Lions, wat 74 vir ’n oorwinning moes aanteken, kon slegs 62 haal.
Dit was Lions se eerste wedstryd vir die seisoen en spelers het nog geroes voorgekom. Lions behoort egter gereed te wees wanneer die Breedevallei-gemeenskapskrieketvereniging se liga binnekort begin. Lions se volgende wedstryd was teen druktyd nog nie bekend nie.
. Kontak Japie Visser by 061 596 8055 of japievisser42@gmail.com vir vriendskaplike wedstryde met die Lions.




