Michael Lindt (links) en die plaaslike liedjieskrywer Henry Odendaal Foto:


’n Plaaslike liedjieskrywer se woorde neem tans die luggolwe oor.

Henry Odendaal het twee jaar gelede vir die eerste keer ’n liedjie geskryf. Onlangs is een van sy liedjies, “Hy is altyd daar”, deur die bekende Afrikaanse sanger Michael Lindt opgeneem.

Odendaal was nog altyd ’n aanhanger van Lindt en het vele van sy KKNK-vertonings oor die jare bygewoon, asook die optredes wat Lindt tydens die Covid-19-pandemie aanlyn gedoen het.

“Dis hoe ons met mekaar begin gesels het. Hy het besef dis iemand met ’n musikale agtergrond wat praat en later het ek hom na my huis toe genooi om te kom optree.”

Dis hier by sy huis in Worcester waar Odendaal vir Lindt vertel het van ’n liedjie wat hy wou hê Lindt moes skryf.

“Maar toe sê hy vir my hy wil liewer hê ek moet die liedjie skryf. Hoewel ek teen daai tyd nog nooit ’n liedjie geskryf het nie, het ek wel sewe jaar ervaring as ’n tenoor-saksofoonspeler in die polisie se orkes,” verduidelik Odendaal.

Die eerste liedjie van Odendaal wat Lindt opgeneem het, is die afgelope naweek by die KKNK bekendgestel.

Odendaal gaan gereeld KKNK toe.

“Dit was ’n bitter groot oomblik vir my om dié liedjie daar te hoor. Ek het nie eintlik geweet hoe om te voel nie.”

Later is Odendaal gevra om ook ’n liefdesliedjie te skryf wat binne die volgende paar maande vrygestel sal word.

“Ek skryf nie regtig liefdesliedjies nie. Maar ek het toe besluit as ek ’n liefdesliedjie gaan skryf, gaan ek dit skryf oor ’n blinde meisie van die blinde gemeenskap. Die liedjie gaan oor ’n blinde meisie wat verlief is op ’n man wat kan sien. Dit gaan oor haar wat nie vir hom kan sien nie, maar sy liefde deur haar oë voel. Michael Lindt het ook hierdie liedjie opgeneem.”

Verder verduidelik Odendaal dat hy al ook deur ander kunstenaars genader is om liedjies vir hulle te skryf, “maar ek skryf net vir Michael Lindt vir eers.”

Hy sê dat hy daarvan hou om liedjies te skryf wat stories vertel.

“Ek probeer altyd om anders te skryf en ook om my eie styl te behou. Ek wil graag hê mense moet, ná hulle na my liedjies geluister het, met ’n boodskap gelaat word. Ek skryf ook so dat die liedjies baie deur kleiner radiostasies gespeel word, want mense luister deesdae baie meer na die woorde van liedjies.”

Die 62-jarige liedjieskrywer belowe daar is sommer nog baie liedjies uit sy pen uit op pad. Intussen raai hy mense aan om solank na “Hy is altyd daar” te luister. Dis tans op alle platforms beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article