Die familie van ’n jong man wat verlede jaar doodgesteek is, is hoogs ontsteld oor die vonnis wat die skuldige in die saak opgelê is.

Yulbin van West is op 4 September agt keer gesteek, waarna hy dood is.

“Die beskuldigde het in die hof beweer Yulbin wou hom van R30 beroof,” verduidelik Yolanda Coetzee, Van West se ma.

Die beskuldigde, Sheldon Makielie, wat ten tyde van die voorval ’n minderjarige was, is op 12 Junie gevonnis. Hy is vyf jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan ’n gedeelte opgeskort is. Hy sal ’n gedeelte van sy straf in die tronk uitdien, waarna hy onder korrektiewe toesig vrygelaat sal word. Volgens sy familie gaan die beskuldigde net tien maande agter tralies sit.

“Ek voel baie ongelukkig hieroor. Hy het my kind se lewe weggevat, en hiervoor voel ek hy moet meer tyd in die tronk deurbring,” meen Coetzee.

Die oorledene se peetpa, Calvin Beukes, is van mening geregtigheid het nie geskied nie.

“Ons wil teen hierdie vonnisoplegging appelleer en die publiek bewus maak dat dit is wat ons kinders se lewe werd is – tien maande agter tralies; ’n vyf-jaar-vonnis vir die wrede moord op iemand. Ek voel die regter se uitspraak bevorder misdaad. Die ouers het geen afsluiting met hierdie vonnis gekry nie. Watter soort straf gaan die klong vir tien maande kry?”

Beukes voel ook die regter wat die saak aangehoor het, was nie toegerus om hierdie saak te hanteer nie.

“Sy uitspraak was gegrond op ’n verkragtingsaak. Hy het self in die hof gesê hy het nog nooit vantevore ’n saak aangehoor waar ’n minderjarige die beskuldigde was nie. Toe sê hy dat hy die oggend voor die uitspraak soortgelyke sake op die internet gaan soek het – sake met minderjarige beskuldigdes. Een van die sake wat hy genoem het, was ’n verkragtingsaak, en dit het hom glo leiding in sy uitspraak gebied. Hy het ook gesê die beskuldigde het die moord uit kinderagtigheid gepleeg omdat hy ten tyde van die voorval 17 was,” verduidelik Beukes.

Standard het ’n navraag oor die bogenoemde bewerings na die Nasionale Vervolgingsgesag gestuur, maar teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article