Die burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), Antoinette Steyn, het vandeesweek aangekondig die jaarlikse Liggiefees sal vanjaar op Donderdag 14 Desember met hope vermaak, eetgoed en ander lekkerhede plaasvind.
Hierdie skouspelagtige geleentheid is een van die grootste jaarlikse gratis opelug-geleenthede op die BVM-kalender.
Die Liggiefees sal van 16:00 buite die Worcester-stadsaal in Hoogstraat plaasvind. Worcester se Kersfeesligte sal reeds Vrydag (8 Desember) sonder enige formaliteite aangeskakel word.
Dit is slegs die musiek- en stalletjiegeleentheid wat op 14 Desember plaasvind.
Op die geleentheid is voorheen gesien hoe honderde – indien nie duisende – inwoners van die vallei en nog verder bymekaargekom het terwyl die munisipaliteit die feesseisoen met pret, musiek en kos in Worcester se Sentrale Sakedistrik (SSD) inlui.
die munisipaliteit moes egter verlede jaar weens die drastiese uitwerking van die Covid-19-pandemie die moeilike besluit neem om nié die fees te hou nie.
Met sy eerste terugkeer sedert die pandemie sal die geleentheid vanjaar ’n onoortreflike reeks plaaslike kunstenaars vir vermaak aanbied, en feesgangers sal vermaak word met ’n vertoning van musiek en beligting.
Stalletjies sal langs Hoogstraat beskikbaar wees, wat alles van kos tot Kersgeskenke en speelgoed vir kinders sal verkoop.
“Om deur die strate te stap en die flikkerende ligte te bewonder, is die ideale manier om in die feesgees te kom. Die doel van die geleentheid is nie net om die BVM se diverse kulture en ryk erfenis te vier nie, maar ook om die noodsaaklike dienste se gereedheid hierdie feestyd te demonstreer,” sê Raymond Esau, die BVM se direkteur van strategiese ondersteuningsdienste.
Steyn het die Breedevallei herdoop as die “Sorghoofstad” van Suid-Afrika en verklaar namate Kersfees en die vakansieseisoen nader kom, is dit die ideale tyd vir valleiers om groter deernis te toon.
“Dit is belangrik dat ons mekaar weer eens herinner aan die minderbevoorregtes wat die Kers- en feestyd met baie minder as ander ingaan. As ’n omgee-munisipaliteit moet ons die gees van liefde en omgee vir mekaar deel en versprei.
“Mag dit die boodskap wees wat Breedevallei-inwoners in die Kerstyd saam met hulle dra,” sê Steyn.
Die burgemeester wens ook alle inwoners en besoekers aan die Breedevallei ’n ontspannende en veilige vakansie toe.?




