Met die feestyd om die draai en die wêreld wat ná die pandemie tot dusver al 99% na normaal teruggekeer het, sou ’n mens dink Worcester se Hoogstraat sou weer deur Kersliggies verfraai word.

Inteendeel – geen liggies sal die dorp vanjaar in die Kerstyd ophelder nie.

Standard het ’n navraag aan die BVM gerig met vrae oor of ’n liggiefees hierdie jaar aangebied gaan word. Van die vrae wat aan die munisipaliteit gestuur is, sluit in:

1. Om watter rede word ’n liggiefees nie vanjaar aangebied nie?

2. Hoe is die besluit geneem om nie vanjaar ’n liggiefees in Worcester te hou nie?

3. Hoe lank gelede is hierdie besluit geneem?

4. Word ’n liggiefees vir volgende jaar beplan?

Hannelie Botha, ’n kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, het egter met ’n kort algemene persverklaring hierop gereageer.

Die verklaring lui soos volg: “Die aanskakel van feesliggies was nog altyd ’n groot gebeurtenis op die Breedevallei-munisipaliteit se jaarlikse kalender om die begin van die feestyd aan te dui.

“Dit het simbolies die einde van ’n jaar en die omhelsing van die nuwe jaar aangedui. Onder Covid-19 moes ons ongelukkig die aanskakel-feestelikhede hiberneer. Vroeër vanjaar is ’n besluit geneem om die winterslaap hierdie feestyd te verleng sodat ons volgende jaar sterker en beter kan terugkom met begrip van die simboliese waarde wat die aanskakeling van feesligfeeste op ons gemeenskappe het,” lui ’n gedeelte van die verklaring.

Verder word gesê liggies sal wel te sien wees. “Intussen sal ligte in die strate aangebring word. Inwoners kan reeds sien ’n paar ligte is voor die Worcester-stadsaal en elders opgesit. Selfs sommige private instansies het bygekom om die feestyd deur ligte te vertoon.

“Ons bid dat al ons inwoners ’n geseënde Kersfees en ’n veilige en ontspanne tyd sal geniet. As jy moet ry, ry asseblief veilig en wees bedagsaam teenoor ander padgebruikers.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article