Katrina Arries het Saterdag van die huis af geloop en is Maandag dood aangetref.Foto:

Credit: SYSTEM

Die liggaam van ’n 82-jarige vrou wat Saterdag 17 Februarie vermis geraak het, is Maandag nie ver van haar huis af nie gevind.

Katrina Arries, of te wel Ouma Kate, soos na die oorledene op Facebook verwys is, is volgens ’n familielid omtrent 100 m van haar huis af in Vinkrivier, Robertson, gevind.

Maria van Wyk, haar dogter by wie sy gewoon het, het Saterdag net voor 19:00 besef Ouma Kate is nie by die huis nie. “Ek was by die huis oorkant die pad. Toe ek net voor 19:00 by die huis aankom, het ek vir die kinders gevra waar sy is, maar ons kon haar nie kry nie. Sy het die dag heeltyd buite gesit en net in die huis ingegaan as sy wou water drink of die toilet gebruik,” verduidelik Van Wyk.

Die huisgesin het toe onmiddellik die nabye gebied begin fynkam vir Arries.

“Ons het rondgevra of ons bure haar dalk gesien het. Mense het haar gesien loop, maar het ons nie in kennis gestel nie. Sy het altyd so in die pad af gestap en dan het die kinders in die ronde altyd geskree, dan gaan haal ons haar en bring haar terug huis toe.”

Hulle het toe later die polisie ontbied en hulle het saam begin soek.

“Die Sondag het die honde-eenheid ook kom help soek, maar dit het niks opgelewer nie. Naby waar sy gevind is, is verwers besig. Een van hulle het haar gekry en onmiddellik my seun in kennis gestel.”

Van Wyk was Maandagmiddag in die bad toe sy die tyding ontvang het.

“Dit het gevoel asof daar ’n skokgolf deur my gegaan het. Ek kon niks slaap terwyl ons na haar gesoek het nie. Maandag het ek myself maar gerusgestel en net gebid dat ons haar vind, al was sy nie meer lewend nie.”

Van Wyk is kort nadat sy die tyding ontvang het, na die toneel waar haar ma se lyk gevind is.

“Dit was nie ’n mooi prentjie om te aanskou nie. Ek het haar toegegooi met ’n laken. Dit was ’n tragiese manier om haar te vind.”

Hoewel Van Wyk nie self haar ma se beserings gesien het nie, het sy bevestig sy het ’n kopwond gehad.

“Die mense wat gehelp het om haar op te tel, het die kopwond gesien. Ek weet nie of sy geval het, of wat nie. Ons wag maar vir die forensiese toetse se uitslae.

“Hulle het ook vir ons gesê om nie weer by die toneel te gaan rondloop nie, want haar oorpak wat sy aangehad het, was nog daar. Haar oorpak en haar kopdoek het onder haar gelê.”

In hierdie stadium het die familie nog nie begrafnisreëlings getref nie omdat hulle moet wag dat die forensiese span sy ondersoek voltooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article