Die vorige omsiener van Leo’s Foundation, die munisipale diereskut, het onlangs in die hof verskyn.

Die dierewelsynorganisasie wat aan die Breedevallei-munisipaliteit behoort, is op 2 Julie gesluit nadat dit op 29 Mei deur die Nasionale Raad van die Dierebeskermings­vereniging (NDBV) besoek is.

Die omsiener het in Mei 2021 ’n tender gewen om na die skut om te sien. Standard het voorheen berig die skut het sedert die omsiener aangestel is vele klagtes van die publiek in die gesig gestaar. Dus het die NDBV sy ondersoek begin. Die bevindings het egter daartoe gelei dat die fasiliteit vir ’n ruk in kwarantyn geplaas is.

Volgens die BVM het die vorige omsiener se kontrak al op 30 Julie verval.

“Die kontrak van Leo’s Foundation se omsiener het al op 30 Junie 2023 verstryk, waarna ’n tussentydse verskaffer, Sandy’s Eden, aangestel is om skut-bestuursdienste en bykomende funksies te verrig,” het Chad Malgas, ’n woordvoerder van die BVM, aan Standard gesê.

Aangesien die kontrak verval het, sal die munisipaliteit geen ekstra stappe teen die vorige omsiener doen nie.

’n Nuwe tenderproses sal egter binnekort van stapel gestuur word.

“Tender BV1036/2023 sal binnekort geadverteer word. Die munisipaliteit is op soek na ’n gekwalifiseerde en betroubare diensverskaffer om die bogenoemde dienste te lewer,” het Malgas gesê.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, word die vrou ondersoek op aanklagte van diere in haglike omstandighede aanhou, ’n parasitiese omgewing en versuim om veeartsenykundige of mediese dienste te lewer of te verkry.

Die klagtes is gebring deur Sandy’s Eden nadat hulle glo verskeie klagtes oor die omsiener ontvang het.

“Oor die laaste jaar het ons hordes klagtes en beëdigde verklarings ontvang van mense se diere wat daar mishandel is.”

Volgens ’n onberispelike bron het die publiek geen idee van wat regtig daar aangegaan het of die omstan­dig­hede waarin die diere moes lewe nie, maar wou nie uitbrei nie.

Die vorige omsiener van Leo’s Foundation sal weer op Donderdag 12 Oktober in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article