Die vierde gedenklesing ter ere van Danny Titus, ’n Worcesteriet in murg en been, aan wie die vryheid van die dorp in 2020 toegeken is, is verlede Saterdag (20 Mei) in die gedenksaal van die VGK Worcester gehou.
Op dié geleentheid is hulde gebring aan een van Worcester se ikone, wat deur sy toewyding en passie om sy mense en die beskerming van veral Afrikaans as taal, die erkenning gekry kry wat dit verdien.
Die eerste helfte van die program – met die bekende Charles Beukes as programdirekteur – is gewy aan die rol wat die DAK-netwerk (Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa), wat deur Titus gestig is, vervul.
Buiten ’n kersaansteek-seremonie, wat deur Titus se broer Leon behartig is, is ’n boodskap deur die bekende digter en skrywer Willem Fransman jr. deur die burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, Antoinette Steyn, voorgelees.
Daarna het Brian Wilson die verhoog as gasspreker betree met die tema “ ’n Soeke na ’n menswaardige geregtigheid in ’n maalkolk identiteit-inheemsheid en rasse-uitdagings”.
Wilson het die besoekers geboei met sy beskrywing van hoe hulle as kinders saam in dieselfde woonbuurt en as leerders by dieselfde skool grootgeword en gegroei het.
In die tweede gedeelte van die program is ere-toekennings aan verskeie mense, wat almal ’n groot bydrae tot die vooruitgang en groei in die dorp en ook in die gemeenskap as geheel gelewer het, oorhandig.
Basil Kivedo is vereer vir sy rol as gemeenskapslid, storieverteller, dosent aan die Universiteit Wes-Kaapland, vorige uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, lid van die Wes-Kaapse parlement en veral vir sy soeke vir sy mense se regmatige plek in ’n demokratiese bestel.
Jeff Lakay, afgetrede opvoeder van Robertson en ’n befaamde digter en skrywer, is vereer vir sy navorsing en neerpen van mense se geskiedenis in die destydse Robertson, terwyl Fritz Klaaste, ’n bekende aanbieder van die RSG- radiostasie, vir sy kreatiewe skeppingsvermoë in die uitsaaiwese vereer is.
Nog ’n oud-Worcesteriet, die Esselenparker Ria Olivier, is vir haar strewe om Afrikaans as spreektaal te bevorder, vereer.
Die Caledonner en oud-Springbok-rugbyspeler Errol Tobias is vir sy bydrae as eerste Springbok van kleur in ’n leliewit Springbokspan vereer.
Floris Brown, ’n bekende oud-opvoeder en digter van formaat sowel as stigterslid van die Restless Children-popgroep van die jare 1970’s, is vereer vir sy lewenslange bydraes tot die bevordering van Afrikaans. Hy is daarna ook saam met die res van die oorlewende lede van dié groep vir hul musiekbydrae tot die bevordering van die kunste in Suid-Afrika vereer.




