Agter van links is Tessel Crotz (Boland), André Starling (Wes-Kaap), Percival Marlow (Boland), Dave Coleman (OP), Dougie Crotz (Boland), Jacques de Bruyn (Boland) en Riyaad Isaacs (Boland). Voor sit Charles Beukes en William Newman.

Credit: SYSTEM

Fietsry Suid-Afrika het naas Rugby Suid-Afrika die tweede sportorganisasie geword wat sy legendariese sportsterre vereer het.

Die verering in Bellville se Velodrome het in drie afdelings plaasgevind: fietsryers van voor 1970, wat fietsry onder die vaandel van Sacos op nasionale vlak verteenwoordig het, en daarna fietsryers wat tot 1977 uitsonderlik presteer het.

Hierna is fietsryers uit die tydperk 1978-1988 vereer. Onder hulle was verskeie fietsryers wat al oorlede is, maar wie se prestasies altyd sal bly voortleef.

Onder die vereerdes was wyle Ben Saunders, wat saam met bekendes soos Willie de Wet, William Cloete, Jan Jantjies, Cupido Green, Ralph Williams, Basil Williams, Gilbert Bonthuys en Naeim de Vos vereer is.

In die groep tussen 1970 en 1977 is Worcesteriete soos Rustum Karriem, Chesterton Pieterse en sy oorlede suster Patty, Bennie Solomons, Theo Beukes, die Jantjies-broers van die Paarl en Jacobus en Johannes Jackson saam met afgestorwe helde Koos Filanie en Magmudh Valley vereer.

In die groep daarna tot 1988 was bekendes soos Tessel en sy broer Dougie Crotz, Charles Beukes asook Percy Marlow.

Hoewel dit baie laat in die oorlewendes se lewe gebeur het, was dit tog welverdiend om erkenning te gee aan die bydraes wat fietsryers van kleur destyds gemaak het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article