Die sowat 60 leerders van Esselenpark Senior Sekondêre Skool in Worcester wat woon op plase langs die R43-roete / Ceres-pad buite die dorp en wat skool vir sowat ’n maand nie bygewoon het nie omdat hul name nie op die lys van leerders verskyn het wat van leerdervervoer gebruik mag maak nie, mag sedert die afgelope Maandag weer van die busdiens gebruik maak en is nou weer terug op skool.
Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê die skool het die situasie opgelos die oomblik toe dit bewus geword het van die verskille in die lys van die kontrakteurs en dié van die skool.
Sy sê die departement kon daarin slaag om met die hulp van sy distrik-leerdervervoerspan die saak op te los.
’n Bekommerde familielid van ’n geaffekteerde gr. 8-leerder by die skool, Leonardo Nicolaasen van die Worcester Rainbow-plaas, sê dié kinders maak al jare van die busdiens gebruik.
Volgens hom het die busdiens glo eers ná vier jaar besef net een kind wat op ’n plaas buite die dorp woon, is geregistreer en mag van die busdiens gebruik maak.
Hy sê die meerderheid van die betrokke leerders het boonop ’n groot deel van hul toetsreeks wat môre (31 Maart) eindig, as gevolg van die vervoerprobleem misgeloop.
Nicolaasen sê die skool het hierdie leerders op 16 Maart ingelig hulle mag nie verder van die busdiens gebruik maak nie.
Volgens hom is die prosedure dat leerders jaarliks aansoek moet doen om van leerdervervoer gebruik te maak.
Hy sê in die jongste geval het die leerders – soos gewoonlik – hul aansoeke betyds ingedien. Volgens hom het ’n onderwyser by die skool, gemoeid met leerdervervoer, hom meegedeel dat hy wel die aansoeke by die distrikskantoor ingedien het.
Nicolaasen sê die betrokke busdiens het hom by navraag meegedeel dat die leerders se besonderhede egter te laat by die distrikskantoor ingedien is. Volgens Nicolaasen is al die skole uitgesorteer, behalwe Esselenpark Senior Sekondêr.
Hy sê op 22 Maart het hy met die skoolhoof vergader en is hy meegedeel die probleem met die leerdervervoer is nie tans die skool se verantwoordelikheid nie.
Volgens Nicolaasen het die hoof voorts aan hom gesê die skool se hande is afgekap en dat dit die ouers se verantwoordelikheid is om hul kinders by die skool te kry.
Hy sê daar is aan hom gesê die aangeleentheid is in die hande van die distrikskantoor.
Nicolaasen sê hy moes ook hoor dit is net ’n vergunning van die departement om leerders by die skool te kry.
’n Leerder by die skool is glo op Vrydag 17 Maart erg verneder toe hy in die bus klim, maar toe beveel is om uit te klim.
Nicolaasen sê hy werk nagskof en dit jaag hom baie geld uit die sak om soggens wanneer hy klaar gewerk het van die plaas te ry om sy jonger suster en nog ’n leerder na en van die skool te vervoer.
Volgens Nicolaasen was dit hartseer om te sien hoe leerders soggens douvoordag langs die pad staan met die hoop dat hulle in die bus toegelaat sal word – maar dan word hulle weer teleurgestel.
Mogamat Majiet, ondervoorsitter van die Breede Valley Education Forum in Worcester, sê hy weet van die geval. Volgens hom is die amptenare gemoeid met leerdervervoer by die onderwysdepartement se distrikskantoor in Worcester onbevoeg.
Majiet sê die blaam word orals geplaas behalwe op die skouers van die betrokke amptenare.
“Ek kan nie verstaan dat ons kinders tuis moet bly as gevolg van hul onbevoegdheid by die distrikskantoor nie. Dié goed moet hulle elke jaar vroeg uitsorteer.
“Of die onderwyser nou die lys laat ingestuur het . . . dit is weggestuur en hulle het dit gekry.
“Die departement gee nie om vir ons kinders en hul ouers nie . . . dit is wat ons lankal sien.”
Volgens Majiet weier die distrikskantoor botweg om die forum te woord te staan. Hy sê daar is soveel uitstaande aangeleenthede wat afgehandel moet word, waaronder die leerdervervoer en oorvol klasse.
Volgens Merton is bykomende klasse en inhaalgeleenthede wel deur die skool vir die betrokke leerders gereël om te verseker hulle word nie benadeel nie.
Sy sê die departement en distrikskantoor moet behoorlike prosesse volg wanneer leerders op ’n busroete toegelaat word, aangesien daar veiligheidsrisiko’s betrokke is en ook reperkussies is vir enige betrokke belanghebbendes indien daar nie aan alle vereistes voldoen word nie.
Volgens haar verseker die distrikskantoor die veiligheid van alle voertuie en kontrakteurs soos voorgeskryf deur die beleid voordat leerders toegelaat word.
Met betrekking tot die onderwysdepartement se beleid oor leerdervervoerskemas, sê Merton: “Indien leerders in landelike gebiede, vyf kilometer of verder, van die naaste toepaslike skool af woon en waar geen openbare vervoer beskikbaar is nie, sal die skool die formele aansoekproses volg vir sodanige leerder om toegelaat te word tot ’n busroete.”





