Dr. Mella Jean Davis, ’n onderwyseres van Richmond, Texas, in die VSA, en stigterslid van die geloofsgebaseerde organisasie sonder winsoogmerk Teachers of the Nations, is hard besig om skoolbenodigdhede vir behoeftige kinders van Avianpark en Riverview in Worcester in te samel.
Davis, wat sedert 2012 opheffingswerk in Worcester doen, het aanvanklik net Bybelklasse vir meisies van Avianpark aangebied. Vandag het sy ook seuns in haar bediening.
Davis het haar program in 2013 uitgebrei toe sy dié behoeftige kinders ook met hul skoolwerk begin help het. Sy het huis- en skoolbesoeke begin doen en later skoolbenodigdhede aan hulle begin voorsien.
Sy sê in 2014 het sy kinders van Riverview ook by haar program betrek en hulle ook van skoolbenodigdhede begin voorsien.
“Die ergste ding wat met ’n kind kan gebeur, is om by die skool aan te kom sonder die nodige items wat hulle benodig.”
Davis sê in die verlede nadat sy uit Suid-Afrika na die VSA teruggekeer het, het barmhartige Samaritane reeds pakkies met skoolbenodigdhede vir behoeftige kinders van Worcester opgemaak.
Sy het dan dié pakkies saam met haar terug Suid-Afrika toe gebring en aan die kinders uitgedeel.
Davis sê weens probleme met haar visum was sy nog nie weer in staat om VSA toe te gaan en skoolbenodigdhede Suid-Afrika toe te bring nie.
Sy sê dis ’n seëning hoe baie skenkings uit Worcester kom.
“Toe ek in 2012 in Suid-Afrika aangekom het, kon ek sien daar was ’n werklike behoefte aan eiewaarde en identiteit by kinders. As ek dink ek is niks werd nie, wat is die nut daarvan om skool toe te gaan; wat is die nut daarvan dat ek selibaat bly; wat is die nut daarvan dat ek wyse toekomstige besluite neem?
“Ek werk daaraan om kinders aan God se plan te verbind – om die siklus van armoede te breek.
“As hulle nie ’n opvoeding het nie, het hulle nie ’n toekoms nie; as hulle nie op skool bly nie, het hulle ook nie ’n toekoms nie. Sodra kinders in die skoolstelsel kom, moet hulle konstant aangemoedig word.”
Davis sê die rede waarom kinders ook so baie stokkies draai, is omdat hulle honger en ongemaklik is. Volgens haar is daar geen lugversorging as dit warm is nie en geen verwarming as dit koud is nie.
“Wanneer ’n kind in ’n warm bed is, gaan hy of sy nie uit daardie bed opstaan om na ’n koue klaskamer toe te gaan en boonop honger te wees nie.
“Die grootste persentasie stokkiesdraaiery kan beëindig word as kinders gevoed word. Jy moet ’n omgewing hê wat gemaklik is vir ’n kind. Die omgewing moet ook liefdevol wees.
“As jy wil hê die kind moet skool toe gaan, is dit die manier om die kind daar te kry.”
. Skenkings word eerskomende Woensdag 24 Januarie om 14:30 by die Avianpark-biblioteek uitgedeel – hoofsaaklik aan kinders wat betrokke is by hul naskoolse dissipelskap-opleidingsprogramme.
Davis sê daar word beoog om 80 kinders van Avianpark en Riverview te help.
. Kontak Davis by 076 664 0044 vir meer inligting en om te help met skenkings.





