Oor die 30 volwassenes van die Breedevallei- en Langeberg-distrikte ontvang hierdie week opleiding om hul eie dagsorg oop te maak. Kursusgangers neem ’n blaaskans saam met Hazel Herwel, ’n klub- en mede-afrigter by Smart Start (agter, sewende van regs) en Nicola Vermeulen, hoof-afrigter in die Wes-Kaap van Smart Start (agter, sesde van regs). Foto: Jana Scheepers


Verskeie inwoners van die Breedevallei- en Langeberg-distrikte vind reeds sedert 2015 baat by die Smart Start vroeë kinder­ontwikkelingsprogram wat volwassenes oplei om hul eie speelgroepe te stig, en só kinders tussen drie tot vyf met basiese opvoeding toe te rus.

Volgens Hazel Herwel, ’n klub-afrigter van Worcester en De Doorns, asook ’n mede-afrigter by Smart Start in die Wes-Kaap, is daar verskeie volwassenes in Worcester en De Doorns wat reeds baat vind by hierdie projek sonder winsoogmerk, insluitend 10 in Worcester en 18 speelskole in De Doorns, wat fokus op vroeë kinderontwikkeling.

Nicola Vermeulen, hoof-afrigter van Smart Start in die Wes-Kaap, het aan die Standard verduidelik die projek is deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk se sinode begin.

Dié projek fokus om werklose volwassenes op te lei as kinderversorgers sodat hulle hul eie dagsorg kan oopmaak en dit kan bestuur as ’n besigheid.

Terselfdertyd bied dit ook aan kinders in verskeie gemeenskappe ’n geleentheid om vroeë kinderontwikkeling-onderrig te ontvang.

Herwel het verduidelik daar is talle mense wat ’n werk soek, asook verskeie jeugdiges wat nie plek gekry het in vroeë kinderontwikkelingsprogramme nie, of wie se familie dit nie kan bekostig nie.

Smart Start, wat staat maak op donasies, lei dan volwassenes op om hul eie besigheid te begin wat vasgestelde fooie per kind vra, terwyl kinders ’n kans het om te basiese onderrig te ontvang wat hul gereed sal maak vir hul gr. R-skooljaar.

Smart Start Wes-Kaap bied opleiding in verskeie dorpe aan, maar is sedert Maandag (24 Julie) tot môre besig met ’n werkswinkel in Worcester wat oor die 30 volwassenes in die Breedevallei- en Langeberg-gebiede oplei.

Volgens Vermeulen kan volwassenes aanlyn of tydens bemarkingsveldtogte wat ook deur Herwel bestuur word, aansoek doen, en hulle word dan volgens sekere kriteria gekeur.

Volgens die Smart Start-webtuiste is kriteria om 18 of ouer te wees en graad nege geslaag het.

By hierdie week se werksessie by die VGK-Suid in Romansstraat in Worcester leer die vroue hoe om vroeë kinderontwikkeling aan te moedig en toe te pas.

Dit sluit in om ’n holistiese benadering aan te leer en om ’n kind se kognitiewe en fisiese vermoëns sowel as emosionele welstand te bevorder deur verskeie aktiwiteite toe te pas.

Volgens Vermeulen sal elke persoon wat aan die opleidingsprogram deelgeneem het, wegstap met ’n deelname-sertifikaat waarna hul werk ook bepunt sal word en vordering gemonitor word.

Daar word ook ’n speelgoedpakkie aan elke persoon oorhandig wat dit kan gebruik in hul dagsorgsessies.

Herwel het verduidelik enige persoon word aangemoedig om aansoek te doen.

Die dagsorg kan vanuit hul huis bestuur word volgens sekere maatreëls, soos ’n noodhulptassie wat in plek moet wees en waarmee Smart Start sal help.

Die kinderversorgers wat deel vorm van die program moet ook gereeld aanmeld vir vorderingsverslae wat deur Herwel in Worcester en De Doorns bestuur word.

. Vir besonderhede oor kursusse, besoek Smart Start se webtuiste by https://smartstart.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article