Jy kan vir Lee-Ann Standfliet van Ashton niks vertel van vure blus nie.
As vrouerugby-skeidsregter moet sy soms intree wanneer die humeure handuit ruk, maar sy blus ook vure in die alledaagse lewe.
Standfliet is ’n voormalige Boland-skeidsregter wat vroeër vanjaar by die WP aangesluit het.
Sy het ook onlangs as brandbestryder gekwalifiseer en was met trots deel van die uitpasseringsparade in Stellenbosch.
“Dit was ’n 12 weke lange kursus wat hazardous materials ingesluit het – en het gehandel oor die impak van gevaarhoudende stowwe en hoe om dit te hanteer.
“Dan het ons Brandbestrydingskursus Een gedoen wat bestaan het uit die verskillende vure en hoe om dit te blus – en uiteraard ook die verskillende toerusting en hoe om dit te gebruik.
“So, ons het basically ons basic firefighting training gaan doen.”
Standfliet sê sy het eintlik nooit daaraan gedink om ’n brandbestryder te word nie, maar toe sy in 2020 by Working on Fire begin werk het, het sy presies geweet dis wat sy vir die res van haar lewe wil doen.
“Die excitement in my hart het oorgevat en ek wou meer weet en leer. Ek dink dit is as gevolg van daai gevoel wat memories teruggebring het van toe ek baie klein was.
“Ek onthou hoe ek altyd in die groot boom (dit was my gebou) geklim het en Rescue 911 gespeel het omdat ek die mense wou red.
“Die gevoel was so overwhelming dat ek skoon met ’n smile op my gesig ’n traan gestort het.
“Ek kon nie glo dat ek van daai vroeëre opwinding vergeet het nie.
“Daai was die final confirmation dat ek my beroep gevind het – en die lekkerste van alles is dat die twee mekaar aan die hand vat, want om ’n rugbyskeidsregter en ’n brandbestryder te wees vereis albei fitness,” sê sy trots.
Standfliet wil ander vroue aanmoedig om hul drome na te jaag, ongeag wie jy is of waarvandaan jy kom.
“Soms is verskonings ons eerste keuse. Ons kyk vas teen die obstacles en soms is ons te bang om uit ons comfort zones te kom.
“Praat en wees eerlik met jouself, erken jou foute, leer daaruit, en maak beter en positiewe besluite.
“Beweeg weg van dinge en mense wat nie tot voordeel vir jou is nie. Begin jouself eerste stel en begin maak God die middelpunt van jou drome. Met God aan ons kant kan ons alles vermag.”
Op die rugbyveld het Standfliet ook reeds talle hoogtepunte beleef.
Dit sluit in:
- 2018 Beste Nuweling-skeidsregter van die Jaar
- 2018 Kaapse Wynlande Presidensiële Toekennings
- 2019 SA Nasionale Vroueweek in Johannesburg
- 2019 AR2 by provinsiale spele: Kavaliers teen Border Bulldogs
- 2020 Gevorderde Brandbestrydingskursus in Bloemfontein
- 2022 SA Nasionale Vroueweek in Welkom.


